Die sterftes van die oudsoldaat Fanus Maritz (38) en die veiligheidswag Samuel Matthys (41) verlede Sondag in Postmasburg in ’n toring wat internettoegang verskaf, is steeds ’n raaisel.

Só sê Liezélle Brits, Maritz se lewensmaat, wat verlede week nog op die uitslae van sy lykskouing gewag het.

Maritz, wat die WiFi-maatskappy Draadloos Noord-Kaap besit, en sy gesin is op Sondag 21 Januarie na die selfoontoring nadat dit deur weerlig getref is.

Hy het brandstof in die kragopwekker gaan gooi.

Liezélle en die kinders het vir hom in die nabye nedersetting naby die selfoontoring gewag.

Maritz het lank gevat om terug te kom en Liezélle het bekommerd geraak toe sy “net sy kopliggie” kon sien.

Fanus Maritz

Sy het alarm gemaak en Matthys, ’n veiligheidswag van Rhino Security, het gaan ondersoek instel.

Toe kom nie Matthys óf Maritz terug nie. Hul lyke is later deur gemeenskapslede gevind.

“Ek en Fanus was Sondagoggend omstreeks 04:30 by die watertoring waar ons gesien het die backup-krag is ook af, waarna ons ons eie kragopwekker gaan insit het.”

Om 09:30 het hulle besluit om die kragopwekker weer te gaan vol maak.

Volgens Brits is dit toe dat die ongeluk gebeur het.

“Ek het my ondersteuning gebel en hy het die nooddienste en Rhino Security geaktiveer siende dat ek slegs Fanus se kopliggie kon sien.

“Ons hart gaan uit na die familie van Samuel wat, net soos hy was, ons wou help.”

Samuel Matthys

Maritz was ongeveer 20 minute alleen in die toring voordat hulp opgedaag het.

Omdat dit ’n Sondag was, was geen ander tegnici op die toneel nie.

Maritz, oorspronklik van Bloemfontein, was 17 jaar lank ’n soldaat voordat hy in Oktober bedank het en hom by Draadloos Noord-Kaap aangesluit het.

Hy was tien jaar lank ’n pantsersoldaat en lid van 1 Spesiale Diensbataljon by Tempe in Bloemfontein.

André Schoeman van Rhino Security in Kathu sê hulle wag ook nog op die resultate van die lykskouing.

Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het op Dinsdagoggend 30 Januarie gesê die ondersoek duur nog voort en dat die outopsie-uitslae nog nie bekend gemaak kan word nie omdat dit deel van die ondersoek vorm.

Cheréne van Niekerk

You need to be Logged In to leave a comment.