Werner Gouws en Janco Venter van Griekwas is ná die Noord-Kapenaars se eerste wedstryd in die Toyota-uitdaagreeks op die krukkelys.

Gouws (elmboogbesering) en Venter (harsingskudding), albei losvoorspelers, is Vrydag (30/09) teen die Ontluikende Ierse rugbyspan in Bloemfontein beseer. Hulle is gevolglik nie vir Woensdag se wedstryd teen ’n Bulle-15-tal in die Rosestad oorweeg nie.

Hoewel die Iere die Poubloues op ’n drafstap met 54 – 7 afgeslag het, sê Pieter Bergh, afrigter van die Griekwas, dit is belangrik om perspektief te behou. Griekwas gebruik die reeks as voorbereiding vir volgende jaar se Curriebeker-reeks.

“Ons is natuurlik baie teleurgesteld in ons vertoning, maar ek dink dit moet in konteks gesien word. Ons begin weer van voor af ’n span bou met ’n klomp nuwe spelers,” sê Bergh.

“Dit vat egter tyd. Gelukkig het ons nou tyd totdat die Curriebeker in Februarie begin. Dit is maar Griekwas. ’n Mens moet elke jaar van vooraf begin bou.

“Suksesvolle spanne het tyd nodig, en jy moet kontinuïteit behou. Dit is ons uitdaging – dit is elke jaar ons uitdaging by Griekwas.”

Die Poubloues het in Junie die eerste keer sedert 1970 daarin geslaag om die eindstryd van die Curriebeker-reeks te haal.

Toe het die Pumas koning gekraai deur die eindstryd in Kimberley met 26 – 19 te wen.

“Ons het verlede seisoen bewys dat ons ’n span kan saamsnoer, maar dit gebeur nie in ’n paar weke nie. Ons het wedstryde nodig om saam te speel sodat die spelers mekaar en die afrigters kan leer ken.”

 Marnus Kok

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article