Die proses om aansoek te doen om moontlik leeus te vestig in die Mokala- Nasionale Park, wat sowat 70 km vanaf Kimberley geleë is, is nog nie afgehandel nie.
Eers wanneer die aansoekproses afgehandel is, kan aangedui word of leeus enigsins in die park gevestig gaan word, al dan nie.
Genevieve Maasdorp, woordvoerder van Sanparke in die Noord-Kaap, sê dit is nie moontlik om ’n aanduiding te gee of die aansoekproses geslaagd sal wees, of nie.
Dit kom ná al hoe meer bespiegelinge van die publiek dat leeus wel in dié nuutste nasionale park van Sanparke gevestig gaan word; met sommige van mening dat leeus reeds daar in hokke aangehou word.
Intussen het die Wêreldnatuurfonds (WWF) onlangs aangekondig dat die grootte van vier van Suid-Afrika se nasionale parke uitgebrei is, danksy samewerking tussen die Nasionale Parke-trust van Suid-Afrika (NPTSA) en die WWF. Dié uitbreiding van die vier nasionale parke behels altesaam 20 206 ha. Twee hiervan is in die Noord-Kaap.
Maasdorp sê die uitbreiding van Mokala en die Namakwa- Nasionale Park is ’n paar jaar gelede reeds afgehandel, maar is nou eers geproklameer.
Volgens haar is die uitbreidings ter sprake reeds onder Mokala en Namakwa se bestuur.
Volgens die aankondiging van die WWF is die grootste uitbreiding in Namakwa, wat met 18 391 ha vergroot is. Dit sluit in veld waar bedreigde plantsoorte, waaronder die kokerboom, voorkom.
Dit sluit ook ’n 6 km-gedeelte in wat deel is van ’n groter 41 km-gebied vanaf die Buffelsrivier en die boonste opvangsgebied van die Swartlintjiesrivierstelsel, wat albei belangrik is vir die algehele ekologiese bestaan van die park.
Die uitbreiding in Mokala behels 844 ha. Dit verskaf veral weiding aan seldsame boksoorte en buffels.
Die ander uitgebreide nasionale parke is die Karoo- Nasionale Park naby Beaufort-Wes (379 ha) en die Agulhas- Nasionale Park, 200 km suidoos van Kaapstad, (574 ha).
Morné du Plessis, uitvoerende hoof van die WWF in Suid-Afrika, sê die uitbreiding dra by tot Suid-Afrika se verbintenis tot die globale biodiversiteitsraamwerk om 30% van die aarde se grond- en seehabitat teen 2030 te beskerm.


