Twee mans is onlangs in die hooggeregshof in Kimberley tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op die 60-jarige Attie Jooste, ‘n boer van ‘n kleinhoewe by Jan Kempdorp.
Renier Adriaan (Attie) Jooste is rondom 7 Januarie 2018 op sy kleinhoewe vermoor. Tydens die voorval is hy erg aangerand. Sy liggaam met ‘n steekwond is later deur ‘n werknemer ontdek, sê lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.
Die beskuldigdes het met onder meer ’n Chevrolet-bakkie, geheuestokkies, drie selfone, klere, ’n beursie met bankkaarte, ’n wisselrigter, boor, luidsprekers, TV-stel, videokamera, ’n boks Harrier-whiskey, naskeermiddel en ’n sak met eetgerei op die vlug geslaan.
Lede van die polisie se provinsiale georganiseerde misdaadeenheid het met die hulp van die K9-eenheid en die misdaadbestuurinligtingsentrum inligting opgevolg. Drie verdagtes is op ‘n hoenderplaas naby Jan Kempdorp in hegtenis geneem. Jooste se verlate voertuig is ongeveer 300 m van sy huis gevind.
Die meeste van die gesteelde items is teruggevind.

Op Donderdag 22 Mei is die volgende uitspraak in die hooggeregshof in Kimberley gelewer:
Beskuldigde een, Lucky Bohelo, is van alle aanklagte vrygespreek.
Kerneels Persent, as beskuldigde twee, en Maxim (Nicardo Mark, ook Meksiko genoem) Hutama as beskuldigde drie, is albei tot 18 jaar tronkstraf vir moord gevonnis, en vyf jaar vir roof.
Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.
You must be logged in to post a comment.