Twee stropers wat daaraan skuldig bevind is dat hulle halfmensbome in die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark gestroop het, is elk tot sewe jaar tronkstraf gevonnis. Sanparke het Maandag (25/04) die vonnis verwelkom.
Veldwagters, wat deur die botaniese span van die park en die polisie se eenheid gemoeid met veediefstal en bedreigde spesies bygestaan is, het die vetplantstropers in Augustus 2020 in hegtenis geneem. Die verhoor van nog twee beskuldigdes duur voort.
Lucius Moolman, streekhoofbestuurder van Sanparke in die Noord-Kaap, sê die verwydering van en skade aan 14 bome van die spesie Pachypodium namaquanum was een van die ergste gevalle nog in die Richtersveld.
“Weens die sensitiwiteit van die plante sal hulle nie in hul natuurlike habitat gerehabiliteer kan word nie.”
Die park is die enigste nasionale park ter wêreld waar die spesie voorkom. Veldplante in die Noord-Kaap word beskerm en ‘n permit is nodig om dit te verwyder, vervoer of besit.
– Anena Burger


