Linda Peters wat al 25 jaar in haar woonstel bly, se kombuiswasbak val weg van die muur. Haar meubels is flenters weens lekkende water en haar “kos vrot, en dan ly ek honger. Hoe meer hulp ek vra, hoe minder kry ek.”

Foto’s: Charné Kemp

#hoekomnou? Dit is die vraag wat die Patriotiese Alliansie (PA) en ander partye soos die DA stel oor die “skielike dienslewering en herstelwerk” wat in wyk 1 van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley op die vooraand van die tussenverkiesing op 22 Februarie plaasvind.

Die regerende ANC is op ’n mespunt, want as hy dié wyk verloor, wat gedeeltes van Roodepan en Platfontein insluit, is hy sy meerderheid in die raad kwyt.

Die departement van paaie en openbare werke herstel slaggate in Roodepan.

Verlede week het die departement van openbare werke en paaie slaggate herstel, die flenter Ravenstraat langs ’n groot poel met lekkende groen rioolwater probeer herteer, en nuwe plaveisel in nog ’n straat gepak.

Dieselfde word in strate in Platfontein gedoen waar die gestaakte padbouprojek voortgesit word. Volgens Fufe Makatong, die Noord-Kaap se LUR van paaie en openbare werke, is die vorige projek weens “onvoorsiene omstandighede” gestaak. Sy het ook toerusting aan die plaaslike sokkerklub in Platfontein oorhandig. Die ANC hou dié naweek ’n sokkertoernooi ter nagedagtenis van sy oorlede raadslid in wyk 1.

Die departement van gesondheid het ’n gesondheids- en inentingsveldtog gehou, en die departement van binnelandse sake het ’n tydelike kantoor opgerig. Die departement van maatskaplike dienste het met inwoners van Platfontein oor bejaardesorg gepraat en sanitêre doekies in Roodepan uitgedeel.

Die LUR’e vir jeug, vroue, mense met gestremdhede en kommunikasie, asook finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme het met klein en medium sakelui in wyk 1 oor sakeontwikkelings-bystand kommunikeer.

Die premier se kantoor het toegangskaartjies vir Roodepan-skoolkinders gekoop om die onlangse internasionale kriekettoets tussen Suid-Afrika en Engeland by te woon.

Sommige van dié staatsdiensveldtogte is weke gelede in Delportshoop gehou waar ’n tussenverkiesing was. Die ANC het 67% van die stemme gekry teenoor die 44% in die 2021 plaaslike verkiesing.

Die afgelope weke het politieke partye tente in Roodepan en Platfontein opgerig om kiesers te probeer oortuig. Partylede in helderkleurige T-hemde het die strate vol geloop om elke kieser voor te keer.

Die Sol Plaatje-diensleweringsforum sê hulle gaan dienste lewer en nie politiekery pleeg nie. Die PA sê “mense verdien die party waarvoor hulle stem” en die EFF se T-hemde sê “black lives matter”. Die DA-kandidaat sê as hulle die wyk wen, sal hulle met ander partye saamwerk om dienslewering te bespoedig. Volgens die ANC is hulle ’n party wat “diep vir die mense omgee en na hul behoeftes omsien”.

Arnold Solomons in sy kombuis.

Een van die Roodepan-woonstelle met ’n verbleikte ANC-plakkaat.

Inwoners skud hul koppe.

“Ek jaag die stemwerwers sommer weg,” sê Arnold Solomons. Hy, sy vrou Janetta en skoonsuster Maria Sehako is van die inwoners van die Roodepan Flats, woonstelgeboue wat die Sol Plaatje-munisipaliteit moet onderhou. Die drie bejaardes verkoop ysies, springmielies, beskuitjies, polonie, vis en atjar aan skoolkinders en die mense met die “orange suits” vir ’n inkomste.

Die Roodepan-woonstelle wat dringende onderhoudwerk benodig. Dit moet deur die Sol Plaatje-munisipaliteit onderhou word.
Volgens Solomons is deeglike onderhoud op die gebouekomplekse “laas in apartheid” gedoen. Hy bly al 18 jaar hier. Sehako sedert die jare negentig.

Buite die gebou wys hy na stukkende balkonrelings, verbrokkelende beton waar ’n vrou ’n paar jaar gelede deur ’n vallende stuk beton beseer is, plekke waar pilare oorhel, betonplafonne uitsak en lewendige elektriese drade ontbloot, stukkende dreine en afvoerpype, ruitlose vensters en vergete posbusse. Die vurkheining word stuk-stuk gesteel en groen rioolwater vloei by mangate uit. Graffiti ontsier die buitemure.

Reënwater loop deur stukkende dakke en krake wat deur “vrot” lekkende pype in die geboustruktuur vererger word. Die geboue bars uitmekaar, sê Solomons.

Hy en sy bure wys waar kombuiswasbakke oorhel, teëls van mure afval en krane morsaf gebreek is. Een vrou sê haar meubels trek uitmekaar omdat sy altyd lekkende water in haar woonstel het. Stukke van die plafon val uit en die geisers werk jare lank nie meer nie. Almal moet water op hul stowe kook, wat hul kragverbruik opjaag. Die druppende water speel parte met die elektrisiteitstoevoer.

Linda Peters wat al 25 jaar in haar woonstel bly, se kombuiswasbak val weg van die muur. Haar meubels is flenters weens lekkende water en haar “kos vrot, en dan ly ek honger. Hoe meer hulp ek vra, hoe minder kry ek.”

Solomons sê “as jy die ligte hier aansit, slaat daardie ligte af. Saans gebruik ons maar bedlampe in die huis.

“Toe ek een keer stukkende krane aangemeld het, het die werkers die krane en pype gebreek. Ek het dit uit my sak reggemaak. Die plafon het ek met pap en lap reggemaak.

“Werk jy aan ’n pyp hier, breek hy daar. Nie eens ’n loodgieter sal iets kan doen nie. Dit sal konstruksiewerkers moet wees wat die geroeste pype binne in die mure moet vervang. Ons kan glad nie die warmwaterkraan by die bad oopdraai nie. Draai jy aan hom, is dit nag.

“Sommige mense moes kombuiswasbakke afhaal en dromme daar plaas omdat die pype in die muur afgebreek het. Hulle het plastiekpype in die ou pype gedruk en krane prakseer.”

“Hierbo is ’n los dakplaat wat aanmekaar slaat. Ek weet nie hoe slaap daai mense nie, want ek hoor dit hier op die grondvloer. Ek wil nie kla oor goed wat ek self kan regmaak nie, maar daai is ook ’n ding wat ek nie kan regmaak nie.”
Arnold Solomons

Die inwoners het ophou kla en aanvaar hul lot.

“Die vurkheinings word helder oordag gesteel. Nóg die munisipaliteit nóg die polisie gaan of kan iets daaraan doen.

“Ek soek eintlik ’n beter woord as genade, want ek weet nie of ons onder en op genade leef nie. Wat help dit jy kla? Jy hou dit maar vir jouself en sorteer dit self uit. As dit verder as ons gaan, is daar moeilikheid.”

Die tussenverkiesing het die bure verdeeld gelaat.

“Die een oumatjie is ANC, die ander nie. Dit is waar die probleem lê.”

Intussen skarrel stemwerwers rond.

“Hulle staan in verskillende kleur T-hemde agter mekaar by voordeure. Dié oorlog is soos ’n bom wat ’n plek soek om te ontplof. Dieselfde gebeur ook in Naborn, Sunset Manor en ander buurte in die wyk.”
Arnold Solomons

“Dit is ’n elkeen-vir-homself saak. Ons lewe maar saam . . . maar in die verkiesingstyd sal diegene wat benefit altyd vorentoe staan vir die ANC. Dié wat agter beloftes aanhardloop. Of jy nou kospakkie kry of nie. Oor vyf jaar kry jy weer net een kospakkie en nog beloftes. Hulle oë gaan nie oop nie, elke jaar val hulle in dieselfde strik. Mans kan nog leë beloftes verstaan, maar vrouens wat kinders moet grootmaak? Daar is nie meer hoop in hierdie woonstelle nie.

“Hoewel daar mense is wat nie meer die leë beloftes glo nie, het hulle nog nie ’n oog vir die DA nie. Daarom stem hulle vir die ander partytjies. As die ander partye kan saamsmelt en opstaan vir ons in Roodepan. Ons verlang ’n beter regering.

“Elke party sit in ’n gat, en almal spring van een gat na die ander. Niemand weet watter gat is die regte een nie. Hoe kom ons almal uit Kimberley se gat? Al wat die partye moet doen, is om ’n verskil te maak.”

Hy sug. “Hier ry hulle op en af met musiekbokse en maak ’n geraas. Dit is groen en blou, orange en geel. Leë blikke maak die meeste geraas. 

“Ek glo stellig as die ANC Roodepan verloor, verloor hulle die Noord-Kaap, nie net Kimberley nie.”

Die Sol Plaatje Diensleweringsforum se verteenwoordiger by hul stalletjie in Roodepan.

Die DA se tent in Roodepan.

ANC-stemwerwers praat by ’n heining met inwoners.

ANC- en EFF-stemwerwers loop by mekaar verby in Roodepan.

Stemwerwers van die Patriotiese Alliansie (PA) sê “groen is lewe”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article