Altesaam 50 tuisversorgers wat in Bloemfontein en Pretoria opgelei is, het Vrydag (16/09) hul sertifikate ontvang.

Dit is die tweede jaar dat Solidariteit Helpende Hand sy geakkrediteerde versorgingsopleiding saam met die Gratia Via-akademie aanbied. Studente wat die kursus voltooi, kan as tuisversorger of versorgingshulp aan tehuise of inwoningsinstellings in diens geneem word. Hulle kan ook privaat werk, hulself verder as ’n au pair of doula bekwaam of selfs palliatiewe sorg verrig.

Die kursus word oor ses maande in Pretoria en Bloemfontein aangebied, waartydens teorie en praktiese sessies afgewissel word.

Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, sê ’n versorger word “soos ’n engel uit die hemel gestuur vir diegene wat nie self kan eet of omdraai nie en wat versorg moet word”.

Dr. Elsha Hermann, die organisasie se hoof van navorsing, programme en opleiding, moedig voornemende versorgingstudente aan om aansoek te doen vir die volgende opleidingsprogram, wat in Februarie begin.

Besoek helpendehand.co.za, soek boaan die blad na “Gemeenskapsontwikkeling”, gaan dan na “Opleiding” op die lys en klik op “Versorging”. Belangstellendes kan ook aan opleiding@helpendehand.co.za skryf.

You need to be Logged In to leave a comment.