Saterdag (13/04) het die rugbyspan van Upington Dorp die pad na Postmasburg aangedurf om in ’n vriendskaplike kragmeting uit te draf.
Postmasburg het in die eerste helfte die oorhand gehad met Upington Dorp wat met hanteringsfoute gesukkel het.
Teen rustyd het die manne van Postmasburg ’n voorsprong van 29 – 5 gehad.
In die tweede helfte is beter verdediging aan Upington Dorp se kant getoon. Postmasburg kon eers weer later in die stryd oor die kalklyn duik.
Upington Dorp se Attie Brits het vir sy span nog sewe punte aangeteken toe hy sy drie verdoel het, maar die koeël was toe reeds deur die kerk.
Upington Dorp het in die stof gebyt en ná ’n loesing van 43 – 12 huiswaarts gekeer.