‘n Trekkertoer om bewusmaking oor demensie te skep, begin op Saterdag 30 Augustus in Potchefstroom, is op Maandag 1 September in Kimberley, en eindig 1 900 km later op 12 September by Bredasdorp waar die landbouskou, Nampo Kaap, plaasvind.
Esmé Marks, bestuurder van die projek en van die Noordwes-Universiteit (NWU) vertel dat Together Rallying Across Communities To Overcome Remembrance-loss (Tractor) daarop gemik is om bewustheid van die emosionele en sosiale impak van demensie op Suid-Afrikaanse gesinne te verhoog.
Meer inligting word tydens die veldtog oor demensie en siektes, soos Alzheimer se siekte verskaf wat breinverwante agteruitgaan veroorsaak.
Geïnspireer deur die langsame reis wat betrokkenes deurmaak, gebruik die veldtog ‘n trekker wat ook die kragtige teenwoordigheid van hulp, veerkragtigheid en hoop simboliseer.
Landini borg en verskaf die trekker wat saam met die toerspan en verskeie ondersteuningsvoertuie talle dorpe in Noordwes, die Noord-Kaap en Wes-Kaap besoek.
Die veldtog word deur die NWU-ondersteuningspersoneel koördineer en is as ‘n projek by die fakulteit geesteswetenskappe geregistreer.

Trekker simbolies
Marks en haar twee susters het die invloed van ‘n demensie-lyer in ‘n familie eerstehands beleef toe haar pa daarmee diagnoseer is.
” ‘n Trekker is simbolies van ‘n persoon wat ‘n groot rol in jou lewe gespeel het, maar wat met demensie deur die stadige proses van die siekte gaan. Dit gebeur nie oornag nie, en is nie gou verby nie,” sê Marks.
Demensie raak nie net individue nie, en plaas beduidende emosionele, geldelike en sielkundige druk op families. Versorgers in die gesin staar dikwels stres, depressie en ‘n verlies aan inkomste in die gesig terwyl hulle die progressiewe agteruitgang van hul geliefdes navigeer.
Ná ons pa se dood het ek een aand besef ons is met hom deur ’n verskriklike ding. Ek en my susters het besef ons was glad nie voorbereid hierop nie en ons was hoegenaamd nie ingelig nie. Ons het nie die tekens raakgesien nie al het ons onder mekaar gepraat oor snaakse dinge wat hy praat, doen of sien. – Esmé Marks
“Toe sy siekte erger geword het was dit emosioneel uitmergelend om hom te besoek. Hy was nooit een dag dieselfde nie – soms was hy verskriklik omgekrap en aggressief, soms praat hy nie, soms is hy praterig – ’n mens het nooit geweet hoe hy gaan wees nie.”
Marks sê sy en haar susters – Debbe Pieterse en René Daffue -was genoodsaak om hul pa in die Samuel Broadbent-huis in Potchefstroom te plaas waar hy deur versorgers ondersteun kon word.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is daar na beraming 57miljoen mense met demensie oor die wêreld heen; en in Suid-Afrika leef 187 000 bo 60jaar hiermee saam. Daar word bereken dat dit tot 250 000 teen 2030 sal styg.
Hierdie veldtog erken die uitdagings en poog om stigma te verminder, navorsingsondersteuning en kennis te bevorder en ondersteunende hulpbronne aan gemeenskappe te bied. Dit kombineer boonop navorsing, onderrig en die werklike impak deur studente, personeel, gesondheidsorgpersoneel en plaaslike gemeenskappe te betrek.
September is Wêreld Alzheimer-maand
Dementia is die sambreelterm van verskillende siektes wat breinverwante agteruitgaan veroorsaak, en September is Wêreld Alzheimer-maand.
Emsie Malan, streeksbestuurder van die Vereniging vir Dementia en Alzheimer se siekte van Suid-Afrika (Adasa) sê dat die organisasie verskeie geleenthede vir die maand beplan.
Besoek adasa.org.za vir meer inligting oor Adasa se werksaamhede oor die land heen.
Trekker ‘toer’ van Potchefstroom na Bredasdorp
Die trekkertoer begin op 30 Augustus by Samuel Broadbent-huis in Potchefstroom, met die bekendstelling van die bewusmakingstoer by die Grootbosch-venue tussen Klerksdorp en Wolmaransstad.
Van hier neem die roete die toergroep na Wolmaransstad, Bloemhof, Warrenton, Kimberley, Hopetown, Strydenburg, Britstown, Calvinia, Vanrhynsdorp, Citrusdal, Tulbagh, Swellendam en Bredasdorp.
- Die toerlede en -konvooi is Maandag 1 September van 18:00 tot 20:00 by die Acacia-aftreeoord in Kimberley.
- Op Dinsdag 2 September vertrek hulle na Hopetown, en op 3 September na Britstown.






You must be logged in to post a comment.