Die belangrikste verkiesing in Suid-Afrika sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 in dié land. Só word die 2024-verkiesing waarin die sewende administrasie verkies word, beskryf.
Dié verkiesing word ook as die mees onvoorspelbare sedert 1994 beskou, met 52 partye op die nasionale stembrief, waarvan 31 nuut.
Ongeag verskeie meningspeilings wat deur verskillende instellings gedoen is om die moontlike uitslae te bepaal, sal die prentjie eers duidelik wees wanneer die stemme van die nagenoeg 27,6 miljoen geregistreerde stemgeregtigdes getel is.
In die nasionale verkiesing in 2019 het die ANC 56,9% stemme in die Noord-Kaap verkry, die DA die tweede meeste met 25,2%, die EFF derde meeste met 9,6%, en die VF Plus vierde meeste met 2,6%.
Volgens ’n ontleding en fokus wat op Netwerk24 gepubliseer is, het die Noord-Kaapse regering wel hard gewerk aan die vooruitgang van ekonomiese ontwikkeling in die groenenergie- en nywerheidsektor, maar dit tel nie in sy guns dat werkloosheid – op ongeveer 26,6% – steeds hemelhoog is en sy munisipaliteite wanfunksioneel is nie.
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit (NWU), voorsien twee scenario’s wat in die Noord-Kaap kan uitspeel.
Hy sê hoewel die ANC steeds moontlik meer as 50% steun kan kry, is dit nie onmoontlik dat die party se steun tot in die 40% kan val nie – maar die party sal dan steeds in koalisie met ander partye kan aanhou regeer.
Die ander scenario is dat ’n koalisie tussen ander groeperings, soos die Veelpartyhandves, dalk die oorhand kan kry, sê Duvenhage.
Dr. Oscar van Heerden, politieke kenner en akademikus, meen dit sal steeds goed gaan met die ANC in die Noord-Kaap, en dat die stempatroon oudergewoonte in sy guns sal tel.
Ontledings van die politieke partye se verkiesingsmanifes – die grondslag waarop hy graag ’n regering wil bou – wys dat kwessies soos die hantering van korrupsie, die ekonomie, misdaad, beurtkrag en die ontvouende waterkrisis fokuspunte is, en dat werkskepping die grootste drukkende landskwessie is waaroor al wat ’n politieke party is, groot beloftes maak.
Magte op gereedheid geplaas
Die polisie in die Noord-Kaap het in ’n mediaverklaring bevestig dat sy lede oor die provinsie heen aan diens sal wees. Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is oor die land heen op bystand geplaas om die polisie te ondersteun indien nodig.
Geen intimidasie, dreigemente, of aanhitsing van geweld, insluitend op sosialemediaplatforms, sal geduld word nie, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.
Om vals inligting, gerugte of dreigemente in persoon, of aanlyn, te skep en te deel word ten sterkste afgeraai, aangesien dit strafbaar volgens wet is.
Dreigemente wat gemaak word om eiendom van ’n persoon of politieke party te beskadig of vernietig, is ook strafbaar volgens wet.
Die polisie sal optree teen die ongemagtigde verwydering, verberging, beskadiging of vernietiging van verkiesingsmateriaal; asook teen die beskadiging of onwettige verwydering van plakkate of reklameborde van ’n geregistreerde politieke party of kandidaat.
Stemlokale dan oop
Volgens die Verkiesingskommissie (OVK) sal geregistreerde stemgeregtigdes wat vir spesiale stemme aansoek gedoen het, hetsy by stemlokale of met huisbesoeke, op Maandag 27 Mei en Dinsdag hul kruisies kan trek.
Dit sal van 09:00 tot 17:00 plaasvind.
Op Woensdag 29 Mei besoek geregistreerde stemgeregtigdes die stemlokaal in die wyk waarin hulle geregistreer is om te stem.
Stemlokale maak Woensdag om 07:00 oop, en sluit om 21:00.
Kiesers wat by die lokaal stem waar hulle geregistreer is, sal drie stembriewe ontvang: vir verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering, provinsiale wetgewers, en onafhanklike kandidate.
Onthou die volgende:
- stem waar jy geregistreer is – indien jy wel in ’n ander wyk stem, sal jy nie al die stembriewe ontvang nie;
- neem jou identiteitskaart, groen identiteitsboekie of tydelike identiteitsertifikaat saam;
- indien jy byvoorbeeld swak sig het, of sukkel om ’n pen te hanteer, sal OVK-beamptes jou kan bystaan; en
- jou stem bly ’n geheim – niemand weet of kan uitvind vir wie jy gestem het nie.


