Trane vloei toe ma en seun herenig

Die trane het vryelik gevloei toe ’n seun van Postmasburg wat verlede week as vermis aangemeld is, met sy ma herenig is.


Ruujon Greeff

Trane van vreugde het gevloei toe Ruujon Greeff met sy ma, Anneke, herenig is. Hier omhels die ma en seun mekaar. Foto: Verskaf

Die trane het vryelik gevloei toe ’n seun van Postmasburg wat verlede week as vermis aangemeld is, met sy ma herenig is.

Die dertienjarige Ruujon Greeff is die aand van 16 Julie eindelik met sy ma, Anneke, herenig nadat die polisie ’n soektog op sosiale media begin het.

Ao. Nomvuyo Makaloi, polisiewoordvoerder, sê Anneke het haar seun Woensdagaand, 15 Julie, as vermis aangemeld nadat hy die middag omstreeks 16:00 laas gesien is.

Ruujon het aan die gesin se huiswerker gesê dat hy by sy tannie in Groenwater, sowat 20 km van Postmasburg, gaan kuier.

Hy het ’n swart sak gepak en die huis met sy twee boerboelhonde verlaat.

Ruujon het toe nooit by sy tannie opgedaag nie.

Die polisie het dieselfde aand met ’n grootskaalse soektog begin en Ruujon se foto’s is wyd op sosiale media versprei.

Donderdag het die polisie ’n wenk ontvang wat daartoe gelei het dat Ruujon in Groenwater opgespoor is.

Meer as 24 uur nadat hy as vermis aangemeld het, is ma en seun die Donderdagaand herenig.

Makaloi sê die seun is medies ondersoek en is ongedeerd.

Lt.kol Andries Witbooi, stasiebevelvoerder van die Postmasburg-polisiekantoor, het lede van die gemeenskap bedank vir hul samewerking.

You need to be Logged In to leave a comment.