Die toestand van die Kuruman-hospitaal is by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) aangemeld. Dit volg op ‘n oorsiginspeksie deur die DA waartydens skendings van die regte van pasiënte en werkers om gesondheidsorg in ‘n gunstige omgewing te lewer en te ontvang, bevestig is.
Rdl. Braam van der Westhuizen van die Ga-Segonyana-munisipaliteit, sê die inspeksie is uitgevoer nadat ‘n video wat in die hospitaal gemaak is, op sosiale media versprei is en opslae gemaak het. Tydens die oorsiginspeksie het pasiënte vertel dat hulle in die koue op komberse op die vloer moet sit en dae lank wag om gespreek te word.
Sale is vol en pasiënte lê op trolliebeddens in die gange. Sommige pasiënte moet op matrasse op die vloer lê. ‘n Pasiënt het ‘n drup in haar arm gewys wat twee dae lank nie hervul is nie, sê Van der Westhuizen.
Een van die verpleegsters het aangedui dat sy ‘n masker dra omdat baie pasiënte met tuberkulose (TB) in die oorvol hospitaal is.
“Dit veroorsaak gevaarlike werksomstandighede. Ongeag die hoërisiko-omgewing, is daar nie aan pasiënte maskers aangebied nie.”
In die kraamafdeling het ‘n baba op ‘n masjien gelê en huil sonder enigeen in die nabyheid, met geeneen wat sou kon keer indien die kind grond toe val nie. Die mediese voorraadstoor is wawyd oop gevind, met niemand binne in nie.
“Dit skep die risiko vir diefstal van medikasie,” sê Van der Westhuizen.
In die hospitaal het vullis rondgelê, insluitend leë bokse en brandwondverbande wat nie weggegooi is nie. Die tuin was ook onversorg en oorgroei, en is as ‘n stortingsterrein gebruik. Verlede jaar het DA-woordvoerder, Isak Fritz, ook tydens ‘n oorsiginspeksie die kollig op die haglike toestand van sorg by die Kuruman-hospitaal geskyn.
“Dit is teleurstellend dat die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement ‘n jaar later nie daarin geslaag het om hierdie tekortkominge aan te spreek nie. Dit ongeag beloftes wat deur die distrikbestuurder en hospitaal se uitvoerende hoof gemaak is.”
Kommentaar deur die departement sal bygewerk word sodra dit ontvang is.




