Die toestand van die Transnet-gebou in De Beers, Kimberley, waarin die premier se kantoor en sy personeelkorps van byna 300 mense werk, is so haglik dat hulle moet trek.
So sê Monwabisi Nkompela, premier van die Noord-Kaap se woordvoerder.
Volgens hom is dit dringend noodsaaklik om ’n nuwe, veiliger en sindeliker gebou te bekom.
“Geen kontrak is nog onderteken vir nuwe kantoorruimte nie. Die departement van openbare werke wat geboue en kantoorruimte namens ons bestuur, het geensins enige kontrak aangegaan nie.”
Dit volg op die kritiek van Pakes Dikgetsi, Cope-uitvoerende raadslid, dat die premier se kantoor ’n peperduur gebou ten koste van die belastingbetaler huur.
Hy was bekommerd dat ’n deursigtige, billike, kostedoeltreffende en kompeterende tenderproses nie gevolg is vir ’n duurder huurkontrak vir ’n nuwe kantoorkompleks nie. Hy het na die nuwe huurkontrak as die “weelderige leefstyl van die vet katte” verwys.
Politieke partye het ook hul wenkbroue gelig oor die premier se kantoor se algehele begroting vir die nuwe geldjaar wat met 55% gestyg het.
Volgens gerugte kos die nuwe DSC-kantoorgebou in Monumenthoogte wat die premier glo gaan huur, heelwat meer per maand as die Transnet-gebou.
Volgens Dikgetsi is die nuwe kantoor “ ’n elitistiese dobbelary” met beperkte staatshulpbronne.
Hy was ook bekommerd oor die veiligheidsaspek omdat protesoptogte gereeld by die premier se kantoor plaasvind.
Volgens Nkompela het die polisie nog altyd die protesoptogte by die premier se kantoor bevredigend hanteer en was daar nog nooit grootskaalse ontwrigting nie.
“Ek glo die polisie het beheer oor optogte. Ons het egter ’n volledige en uitgebreide veiligheidsbeleid wat uitgevoer moet word. Die veiligheidsaspek speel ’n belangrike rol in die uiteindelike keuse van ’n nuwe kantoor, want ministers en ander hoëvlakmense besoek ons kantoor gereeld. Die premier se kantoor moet egter sigbaar vir die burgers wees, in wie se diens ons is.”
Die Transnet-gebou is glo haglik.
“Vele kere is daar nie water nie en toilette word verstop, wat gesondheidsgevare inhou. Ons is byna 300 mense in die gebou met ses verdiepings en die hysbakke is gereeld buite werking. Kabeldiefstal is ook ’n probleem in die gebied waar die kantoor geleë is. Dit beteken dat ons geen kragtoevoer het en nie kan werk nie. Die omgewing is nie meer bevorderlik vir goeie werksverrigting nie.”
Hy sê in die 11 jaar wat hy in die gebou werk, het dit baie agteruitgegaan.
“Ons wou die gebou meer as sewe jaar gelede by Transnet koop en geld bestee om dit op te knap, maar hulle het geweier. Noudat ons wil trek, wil hulle die gebou verkoop. Dit is te laat, want die gebou is vervalle. Indien ons na die DSC-gebou trek, sal ons by die Noord-Kaapse Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap aansluit, wat reeds daar huur.”
Hy wou nie uitbrei oor die huurkoste van die nuwe kantoor nie, omdat dit nog onderhandel word en nie bekragtig is nie.
“Ons het Dikgetsi se aansoek om verdere inligting ontvang en ons regsdepartement verwerk dit.”


