Mari du Raan, uithaler-netbaldoelskieter, Valentino Lenge, blitsvinnige rugbysenter, en Leon Victor, skoolhoof van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley.

Foto: Charné Kemp

Die Hoërskool Diamantveld skitter behoorlik met twee van sy leerlinge wat reeds, of binnekort, aan nasionale proewe deelneem om in Suid-Afrikaanse spanne ingesluit te word wat vanjaar aan die Trinbago Statebond-Jeugspele in Trinidad en Tobago deelneem.

Dit kom op die vooraand van die aankondiging deur die beheerliggaam dat ’n nuwe hoëprestasie-kondisioneringsentrum by die skool gebou gaan word.

Valentino Lenge (17) vertrek volgende maand na Kaapstad om aan die oefenkamp vir die nasionale o.18-sewesrugbyspan deel te neem. ’n Protea-span word dan gekies wat in Augustus aan die Jeugspele deelneem.

Mari du Raan (17) het reeds nasionale kleure verwerf nadat sy vir die o.17-Protea-netbalspan gekies is. Sy is pas in die o.18-Protea-Fast 5-netbalspan van 12 spelers ingesluit wat in Augustus aan die Jeugspele deelneem.

Valentino is ‘n uithaler-naelloper wat reeds op laerskool aandag getrek het toe hy rekords in kortafstande laat spat het. Hy was in gr. 7 aan die Curro-skool in Kathu toe sy talent by ’n oefenkamp in Kimberley raakgesien is. Hy is ’n beurs aangebied om sy hoërskoolloopbaan by Diamantveld te doen. Hy het al twee keer aan die Suid-Afrikaanse skolebyeenkoms in die 100 m- en 200 m-nommers deelgeneem en uiters goed gevaar.

“My gunsteling posisie in rugby is heelagter, hoewel ek nou senter speel,” sê hy. Sy vernuf is onlangs in die o.19-rugbywedstryd teen die Boland Landbouskool tydens die Absa Wildeklawer-toernooi deur ’n keurder raakgesien wat die skoolhoof met ’n uitnodiging genader het.

“Ek het gedog ek het iets verkeerd gedoen toe die skoolhoof my inroep. Dit was wonderlike nuus dat ek aan die proewe deelneem.”

Leon Victor, skoolhoof, sê om in sewes te presteer, moet die speler spoed, balvaardigheid en plofkrag hê.

“Valentino se naam is nou bekend, en hy kan volgende jaar weer genooi word vir die proewe.”

Volgens Mari, ’n doelskieter, het haar ma haar al voorskools geleer netbal speel.

“In Douglas het ek altyd in my ouderdomsgroep se eerstespan gespeel, en later ook vir die Noord-Kaapse span. Toe kry ek ’n sportbeurs om my hoërskoolloopbaan by Diamantveld te doen.”

Sy het ook vanjaar en verlede jaar tydens die Suid-Afrikaanse skolebyeenkoms rekords in die gewigstoot- en diskus-nommers verbeter.

“Netbal is ’n spansport waarin ’n mens hegte vriendskappe bou, waar tennis ’n meer individuele sport is.”

Mari kon vanweë die nasionale netbalproewe nie vir Diamantveld se senior netbalspan in die afgelope Absa Wildeklawer-toernooi speel nie.

Volgens Victor speel die land se beste skole by dié toernooi.

“Ons is bevoorreg om deel te wees. Dit is goed om bokant jou gewigsklas te boks, dit haal die beste uit jou uit. Die toernooi het uitgewys waar ons moet verbeter en oplossings instel.

“Die skool gaan binne die volgende drie jaar ’n nuwe sportsentrum bou sodat ons die beste geleenthede en geriewe bied. Ons wil ons atlete behou, want daar kom soveel aanbiedinge van ander skole. Die oogmerk is dat elke sportsoort se spanne in die sentrum oefen om hulle vroeg in die seisoen voor te berei en te kondisioneer.

“Volhoubare langtermynplanne vestig goeie standaarde, meer as korttermynoplossings.”

Hy het ook elke leerling, ouer, ouers van voormalige leerlinge en oudleerling bedank wat lang ure by die onlangse toernooi gewerk het om geld vir die skool in te samel.

“Ons het mekaar op ’n vlak leer ken wat ons nooit andersins sou nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article