Die hindernisbaan was baie uitdagend en moeite is duidelik met die oprig van die hindernisse gedoen.
Só vertel Hendrika Louw, eienaar van K-Fit Kimberley, wat onlangs saam met mede-K-Fitters aan die eerste hardloop-hindernisbaanuitdaging in die Titans Chase-avontuurreeks deelgeneem het. Dit het op 17 September by Oewerkuier, Christiana, plaasgevind en 52 deelnemers het hulle ingeskryf.
Louw, wat aan die 10 km-hindernisbaanuitdaging deelgeneem het, was derde algeheel, en die tweede vrou.
Naziel Adams, ook van K-Fit, was eerste in die 10 km-hindernisbaanuitdaging, wat hy in 1 uur en 9 minute kafgedraf het.
Die vinnigste tyd in die 5 km-hindernisbaanuitdaging is deur ’n leerling van die Gekombineerde Skool Christiana opgestel, wat dit in slegs 40 minute voltooi het.
Ian Smit, hooforganiseerder, sê die deelnemer wat die langste geneem het om die baan te voltooi, was ongeveer 2 uur aan die gang.
Hy sê atlete van onder meer Kimberley, Stella, Vryburg en omliggende dorpe het deelgeneem.
“Die atlete het genoem dat dit ’n veeleisende baan was en dat die delwershope hul bene moeg gemaak het.”
Louw beaam dit en sê die opdraendes van die delwershope was soos ekstra hindernisse.
Ricardo Gressel, Titans Chase-ambassadeur, het vroeër gesê dit gaan daaroor om saam ’n hindernis te oorwin, en dat deelnemers teen die titan in hulself meeding.
Volgens beplanning sal die volgende uitdaging in November, ook in Christiana, aangebied word.


