DJ Stacey, wat meer as 300 000 volgelinge op sosialemedia­platforms het, het in ’n onlangse TikTok-video weer haar skok weens die toestand van Kimberley uitgespreek.

Stacey Khojane, op dié platforms as DJ Stacey bekend, is ’n boorling van Kimberley.

Die slaggate, rommel wat oral lê, oorgroeide sypaadjies en gebrek aan deurlopende water- en kragtoevoer het haar “de moer in”.

“Die premier praat van ’n moderne en groeiende provinsie.

“Maar as ek in Kimberley aankom, lyk dit soos ’n toneel uit die Flintstones-fliek, of ’n horror-prent met Freddy Krueger wat los rondloop. My hometown lyk soos die hond se g*t,” sê sy in die video.

In haar grootwordjare was die stad ’n skoon plek waar sy veilig gevoel het om in Phakamile Mabijastraat (die destydse Jones-straat) “window shopping” te doen.

“Nou is dit te vuil en gevaarlik.”

DJ

DJ Stacey lewer kommentaar oor kosaflewering wat in dié geval met robotte in Amerika gedoen word. Weens Suid-Afrika se hoë misdaadsyfer sal so iets nie hier kan werk nie, meen sy. DJ Stacey lewer gereeld komiese kommentaar oor nuusgebeure oor die wêreld heen.

Khojane, wat ’n honneursgraad in mediastudie het en by die Universiteit van die Vrystaat (UV) werk, sê jongmense kan nie groei en gedy en die beste van hul lewe in dié omstandighede maak nie.

“Dit lyk of daar geen toekoms in Kimberley is nie. Die premier en sy hoëvlak-amptenare wat in die stad leef en werk, is skynbaar nie geraak deur die toestande nie.

“Water, wat deur die Here gegee is, word nou deur amptenare beheer. Dit behoort ’n basiese reg te wees.”

Sy sê ander mense wat baie volgelinge op die sosiale media het, moet ook hul stem dik maak.

“Niemand kan meer stilbly nie. Die waterprobleem kom al langer as ’n dekade, en niks is reggemaak nie. Dit word net erger.”

Sy sê amptenare, LUR’e en die premier kry elke maand ’n salaris, “maar hulle bied f****l dienste”.

“Inwoners kan nie toelaat dat hulle so abuse word nie.

“Julle kan dit nie aanvaar en niks daaromtrent doen nie.

“Almal, van pienk tot pers, kry julle leiers bymekaar, hou ’n vergadering in die stadsaal en doen stappe.

“Hulle is besig om julle stadig dood te maak deur julle te desensitiseer.”
DJ Stacey

“Dit is onaanvaarbaar om die swak dienslewering, waarvoor julle betaal, as normaal te aanvaar.”

Sy het die naweek met haar besoek aan Kimberley weens ’n gebrek aan water nie haar “stêre kon was nie” en in die hittige temperature soos ’n “rotisserie-hoender gevoel”.

“Nou word mense gedwing om gebottelde water te koop of ’n Jojo-tenk op te rig.

“Of jy moet sonpanele en invertors insit. En wie betaal vir die toestelle wat weens beurtkrag inkonk? Met watse geld? Julle betaal dan reeds vir dienste.

“Die werklose jongmense lê op die straathoeke, besig met drank en dwelms.

“Kort voor lank begin hulle dink dit is ’n normale lewe.”

Dié videoplasing was nie DJ Stacey se eerste oor die waterkrisis in die land nie.

Dié Tik-tok-video van DJ Stacey oor Kimberley, wat op 29 Januarie geplaas is, is reeds meer as 17 000 keer gekyk, byna 500 keer gedeel, en het honderde reaksies uitgelok.

Van die kommentare is:

  • “Ek stem Stacey… onaanvaarbaar.”
  • “Hulle wend hulle na die wêreldhof, maar voer ’n geestelike-afbrekende-oorlog teen hul eie mense.”
  • “Voel dieselfde, Kimberley het baie agteruit gegaan, en die council tot Premier doen niks, maar pay elke maand.”
  • “En hulle worry oor Gaza wat nie water en krag het nie, my liewe Hemel, gee my krag.”
  • “Jy moet jou eie party stig mamma. Jyt my vote.”
  • “Laat ek wyle president Nelson Mandela aanhaal. ‘If the ANC do to you what the apartheids regime did then do to the ANC what you did to the apartheids regime” I rest my case.”
  • “Die woede wat ek nou voel kan ek iemand uit vloek van kwaad wees… yooohhhh ons kinnes en oumense hoe lewe hulle da… dus bad regtig.”
  • “I follow her cuzz, she is spot on and very funny.”

You need to be Logged In to leave a comment.