“Jou gevoelens is belangrik, kom ons praat daaroor.” Dit is vanjaar se tema van Tienerselfdoodvoorkomingsweek waartydens dit beklemtoon is hoe belangrik oop gesprekke met tieners oor emosionele welstand is.
Deel van die veldtog, wat van 9 tot 16 Februarie plaasgevind het, was om jongmense aan te moedig om hulp te soek wanneer hulle oorweldig voel deur hul emosies.
“Ons moet die tekens herken en die regte ondersteuning bied,” sê Maruné van Vreden, maatskaplike werker by Helpende Hand.
Volgens inligting van die nasionale departement van gesondheid is sowat 7 426 kinders onder die ouderdom van 18 jaar vanaf April tot Desember 2024 vir selfdoodpogings behandel.
“Selfdood is ’n werklike stryd vir baie tieners, maar hulp is beskikbaar. As jy sukkel om iets emosioneel, geestelik of fisiek te hanteer, is daar mense wat wil help,” sê Louise Zitzke, ook ’n maatskaplike werker. Sy noem dat selfdoodgedagtes ’n aanduiding is dat iemand hulp nodig het.
“Praat daaroor. Of dit met ’n vriend, ’n volwassene of ’n professionele persoon is, elke gesprek is ’n tree nader aan genesing.”
Een van die grootste tekens dat ’n tiener om hulp roep, is as hulle hulself doelbewus beseer.
’n Vrou wat deur selfbesering as ’n tiener gegaan het, Felicia Richardson, deel haar ervaring om ander te help.
Sy het ’n moeilike jeug gehad en verskeie traumas beleef. Dit het haar tot selfbesering gedryf. Vandag is sy gelukkig getroud, ’n ma, en ’n internasionaal geakkrediteerde lewensafrigter wat mense help om deur trauma en uitdagings met geestesgesondheid te werk.
Sy deel dié tekens waarna ouers moet let:
1. Fisieke tekens: Snye, brandmerke, kneusplekke of skrape, dikwels op verborge plekke soos arms, bene of die buik; en tieners wat in warm weer langmouklere of langbroeke dra om beserings te verberg.
2. Emosionele en gedragsveranderinge: Skielike buierigheid, depressie of onttrekking van familie en vriende; verlaagde selfbeeld en selfwaarde; en verandering in slaappatrone of eetgewoontes.
3. Veranderinge in sosiale interaksie: Vermyding van aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het; vriendskap met groepe wat selfbesering as ’n manier van hantering beskou; en gebrek aan ’n ondersteuningsnetwerk of isolasie.
4. Ander waarskuwingstekens: Gereelde praatjies oor gevoelens van hulpeloosheid of waardeloosheid; pyn as ’n manier om emosionele stres te hanteer; en verhoogde belang in donker of depressiewe inhoud op sosiale media.
Richardson sê dat ouers nie hul kinders moet veroordeel nie, maar begrip en ondersteuning toon en hulp kry indien nodig.
Terapie, stokperdjies, positiewe invloede, gesonde eetgewoontes en gehaltetyd saam met die tiener is van die stappe wat kan help met genesing.
Besoek Richardson se webwerf by transformationcoachfelicia.com vir meer inligting.


