Enkele ure nadat skole vir die eerste keer ná die staat van inperking heropen het, is ’n tienerseun in Wrenchville by Kuruman in verband met inbraak by ’n skool in hegtenis geneem.
Die 16-jarige seun is die middag van 8 Junie vasgetrek, nadat hy na bewering by ’n plaaslike laerskool ingebreek en ’n rekenaar van R12 000 gesteel het.
Sy inhegtenisname volg op gebeure toe die gemeenskap ingespring het om die verdagte op te spoor.
Die polisie het op inligting reageer en die seun is weens die besit van die gesteelde rekenaar, huisbraak en diefstal vasgetrek, het brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, gesê.
Hy is later in die sorg van sy oupa vrygelaat.
Ramatseba, sê die seun sal intussen vir sielkundige waarneming na die departement van maatskaplike ontwikkeling geneem word.
Genl.maj. Johan Beam, groepbevelvoerder, het die polisie, asook die inwoners, vir hul samewerking geprys.