Tehuise in die Nama Khoi-streek kan die komende winter makliker aanpak nadat ’n vragmotor met kos op Vryheidsdag (27/04) in Springbok aangekom het.
Die Gift of the Givers-stigting in samewerking met Namaqualand Mines van die diamantmaatskappy De Beers, het die kosvoorraad aan die Tehuis vir bejaardes en Immanuel-sentrum vir gestremdes in Steinkopf, Huis Harmony vir bejaardes in Bergsig, Huis Namakwaland in Springbok en Kamieskroon-herberg in Kamieskroon geskenk.
Amptenare van die Nama Khoi-munisipaliteit het gehelp om die kos af te laai. Tydens die amptelike oorhandiging op Dinsdag 28 April het Riaan Cloete, burgemeester van die Nama Khoi-munisipaliteit, gesê die tehuise in die omgewing bedien ’n wye gebied.
“Dit is nie net oumense wat gehuisves word. Daar is ook persone met gestremdhede. Verskeie ander mense word ook gehuisves.”
Mervin Cloete, uitvoerende burgemeester van die Namakwa-distriksmunisipaliteit, het gesê baie stories doen die ronde oor raadslede wat glo kos, wat vir hulpbehoewendes bedoel is, steel.
“Ons is eerlik genoeg om te weet dat dit nie reg is nie.
“In die meeste gevalle is dit nie die raadslede wat self betrokke is nie, maar ander individue.”
William McDonald, bestuurder van die De Beers-groep in Namakwaland, sê dit is altyd goed om saam met mense te werk wat dinge reg doen.
Volgens McDonald gaan De Beers en Gift of the Givers nog twee besendings kosvoorraad stuur. Dit sal binne die volgende paar maande geskied. Elkeen van die besendings sal ongeveer 800 kospakkies hê.
Llewellyn Jordaan, bestuurder van Tehuis vir bejaardes en Immanuel-sentrum vir gestremdes in Steinkopf, sê dat hulle groot waardering het vir die skenking.
“Dit sal groot verligting en besparing vir ons bring, gesien in die lig van die omstandighede waarin ons tans is.”
Volgens Ronel Whiting, bestuurder van Huis Namakwaland, was die hulp regtig nodig en is hulle dankbaar daarvoor.