“Dit reën nou roekeloos in die Karoo”.

Só haal Charles Smith van Netwerk24 aan uit ’n Facebook-plasing van Karel van der Merwe nadat dit oornag 135 mm op Van der Merwe se plaas tussen Vanwyksvlei en Carnarvon gereën het.

Teen Dinsdag (01/02) was die veld tot 1,4 m diep onder water en het net die boonste deel van heinings bo die oppervlak uitgesteek.

Volgens Van der Merwe is die jaarlikse gemiddelde reënval 175 mm tot 200 mm, maar die vorige sewe jaar was dit minder as 20 mm per jaar. Vir die huidige reënseisoen het hulle reeds 355 mm reën gekry.

Ironies genoeg is die plaas se naam Stofbakkies.

Ook ironies is dat van die inperkingsmaatreëls letterlik oornag verslap is; maatreëls wat skaars twee weke gelede moes bly staan, “come hell or high water”.

Met die aanvang van die skooljaar is beslis dat sommige skole steeds van die rotasie­stelsel gebruik moet maak.

Voet is dwars gesit daaroor, ongeag pleidooie van skole en ouers dat die skooljaar ten minste normaal moet begin.

Nou, oornag, mag leerlinge van alle laerskole, hoërskole en spesiale skole heeltyds terug skool toe gaan. Selfs die reël dat ’n “gesonde afstand” van 1 m van mekaar af gehandhaaf moet word, is verwyder.

Die verbasing was groot om te lees dat nagklubs wel steeds gesluit is.

’n Mens sou wonder as wat ’n sekere “kuierplek” vir jongmense in die hoofstad van die Noord-Kaap sou deurgaan. Ry ’n mens soms noodgedwonge op ’n naweekaand ná 22:00 daar verby, is die hoeveelheid jongmense voor dié plek – volgens inperkingsregulasies dan seker nie ’n nagklub nie – absoluut verbysterend.

Op en langs die dubbelpad maal, strompel en struikel hulle; met hordes voertuie skuins en dwars parkeer en dawerende musiek wat sintuie verdoof.

Soms wanneer ’n mens te veel waarneem, te veel hoor, te veel sien en te veel dink, voel jy soos Van der Merwe van Stofbakkies wat ná die “bitterlik erge” reën op sy plaas opgemerk het: “Ek lag, maar ek panic.”

You need to be Logged In to leave a comment.