Die Absa Wildeklawer-skolesporttoernooi vind vanaf weer eersdaags in Kimberley plaas
Die Absa Wildeklawer-skolesporttoernooi vind vanaf weer eersdaags in Kimberley plaas. Foto: Wildeklawer

Benewens van die land se beste skolespanne in rugby, sokker en netbal wat vanjaar in aksie by die Absa Wildeklawer-skolesporttoernooi gaan wees, kan sportgeesdriftiges uitsien na die deelname van twee internasionale rugbyspanne, ’n regstreekse Supersport-uitsending én ’n Spoegwolf-konsert.

Dié toernooi, wat sedert 2009 aangebied word, vind vanjaar van 24 April tot 4 Mei in Kimberley plaas.

Die organiseerders reken dit is ’n jaarlikse ekonomiese inspuiting van R120 miljoen vir die stad.

Voorbereiding is reeds aan die gang by die Hoërskool Diamantveld, waar van die hoofrugby- en hoofnetbalwedstryde plaasvind.

Die Absa Wildeklawer-skolesporttoernooi vind vanaf 24 April tot 4 Mei in Kimberley plaas.

Altesaam 195 spanne van 111 skole neem deel, met 35 spanne uit die Noord-Kaap. Die toernooi bestaan uit ’n rugby- en netbalkompetisie vir laer- en hoërskole, en ’n junior en senior sokkertoernooi.

Die internasionale rugbyspanne is dié van St John’s College van Nieu-Seeland en die Kirkham Grammar School van Engeland.

Nuwe deelnemers is die Hoërskool Noordheuwel van Krugersdorp en Nico Malan van Humansdorp, terwyl die hoërskole Waterkloof en Marlow Landbou terugkeer.

Cassie Carstens, toernooi­bestuurder, sê die geleentheid gaan nie net oor kompetisie nie.

“Dit gaan ook oor vriendskappe bou, en om sportmanskap te kweek en ’n liefde vir die spel te ontwikkel.

“Die toernooi se oogmerk is om deur deelname gelyke geleenthede aan skole op alle vlakke te bied, en om atlete se talente op ’n internasionale verhoog ten toon te stel.

“Die toernooi wil samehorigheid en kameraadskap bevorder en die volgende generasie atlete inspireer.

“Ons bied nie net ’n toernooi aan nie; ons is besig om die toekoms te vorm. Deur sport bou ons sterker gemeenskappe en kweek ons die leiers van môre.”

Om meer vermaak te verskaf, bied Spoegwolf ’n konsert op 3 Mei by die Hoërskool Diamantveld aan. Leerlinge wat deelneem het gratis toegang. Kaartjies is op iTickets te koop.

Carstens sê hulle hou op 3 Mei om 18:00 ook die Absa Wildeklawer-sportfunksie, waarvan ’n gedeelte regstreeks op Supersport Schools uitgesaai word.

Dit vind by die Mittah Seperepere-konferensiesentrum plaas, en 50 van die 80 tafels is nog beskikbaar.

Kaartjies is by iTickets beskikbaar, en sluit eet- en drinkgoed in.

Die aanbieders is Kobus Wiese en Breyton Paulse wat met nasionale en internasionale sportlegendes, persoonlikhede, voormalige afrigters en ambassadeurs (wat verskeie sportsoorte insluit) gaan gesels.

You need to be Logged In to leave a comment.