Die nuutgestigte Delportshoop-tak van AfriForum bou stelselmatig momentum op. ’n Projek wat op spesifieke probleemterreine fokus, is deur die tak – wat op 2 April gestig is – begin.
Hierdie projek maak deel uit van dié tak se volhoubare opruimingsprojek, waarmee die bestuur poog om Delportshoop weer in ’n pragdorp te verander.
In Julie is die hoek van Pretorius- en Venterstraat, asook die substasie in Bredenkampstraat getakel. Gras by dié T-aansluiting is gesny om sig te verbeter en ’n nuwe stopteken is opgerig. Die gebied rondom die substasie se gras is ook gesny en die omgewing opgeruim om toeganklikheid te verbeter. Die dorp se hoofingang, asook verskeie dreineringslote en kragbokse, is ook onder hande geneem.
Dié projek word deur Ben Venter en sy span gelei.
“Ek waardeer die ondersteuning van die taklede en vra dat almal my en my span sal help om die projek suksesvol uit te brei. Ek bedank almal wat skenkings gedoen het; sonder jul hulp sou dit nie moontlik gewees het nie,” sê Venter.
In Junie is Delportshoopstraat by die hoofpad opgeruim om sigbaarheid en veiligheid te verbeter. ’n Stopteken is opgerig, dreineringslote is skoongemaak en 43 slaggate is in die straat opgevul danksy ’n skenking wat die tak ontvang het.
In Mei het die tak Kruger- en Buysstraat getakel en bosse verwyder om sigbaarheid by die besige kruising te verbeter. In April is daar op Hanekomstraat gefokus en altesaam 15 vragte rommel en vullis is met ’n bakkie en ’n 3 ton-sleepwa weggery.
“Dit is lekker om te sien hoe die gemeenskap hande vat om ’n verskil in die dorp te maak,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.


