Om met Minette Kruger (16) van Kimberley ’n geveg op te sit, kan ’n mens dalk lelik op jou neus laat kyk.
Minette het in Mei ’n goue en ’n silwermedalje in onderskeidelik gemengde gevegskuns en in stoei verwerf, en insluiting in die nasionale spanne, om later vanjaar aan die wêreldkampioenskappe deel te neem, is nie uitgesluit nie.
Dié gr. 10-leerling aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley is gaande oor die adrenalien wat deel van die gevegsportsoorte is.
Hoewel ’n mens in ’n span ingesluit is, “is jy op jou eie” tydens die geveg, sê sy.
Haar mees onlangse goue medalje het sy op 21 Mei tydens die Mixed Martial Arts South Africa (MMASA) se nasionale kampioenskap in Brakpan, in die jeugkategorie 12 tot 17 jaar, verwerf.
Tydens die byeenkoms was sy lid van die Noord-Kaapse MMA-span, met Iron Fist MMA as haar tuisklub.
Met hierdie prestasie is sy die MMASA Suid-Afrikaanse kampioen in haar kategorie en ouderdomsgroep, en kan sy in die nasionale span ingesluit word.
Enkele dae voor die MMA-kampioenskappe het Minette van 14 tot 20 Mei aan die Afrika Kontinentale Kampioenskappe in Marokko aan stoei deelgeneem.
Hier het sy in die kategorie vroue vrystyl o.17 (65 kg) deelgeneem en ’n silwermedalje verwerf.
Volgens ’n skrywe van die Noord-Kaapse Stoeivereniging is dit een van die beste prestasies wat in die span gelewer is.
Boonop het die Suid-Afrikaanse vrouespan, waarvan sy deel is, algeheel derde geëindig – die eerste keer in tien jaar.
Vir hierdie prestasie kan sy moontlik in die nasionale span ingesluit word wat later vanjaar aan die wêreldtoernooi in Rome in Italië plaasvind.
Plaaslik oefen Minette by die Kimberley Diamant-stoeiklub.
Minette is in 2019 as die voormalige Noordkaap-koerant en Supersport Let’s Play se sportster van die jaar aangewys.
Ten tyde van hierdie prestasie was sy ’n leerling aan die Laerskool Eureka.
Veelsydigheid, asook sportprestasies op plaaslike, nasionale en internasionale vlak is bepalend by die aanwys van die wenner van hierdie kompetisie.
Toe het Minette reeds aan onder meer stoei, netbal, hokkie en atletiek deelgeneem, en het reeds internasionale kleure in stoei verwerf.


