Lede van die Christian Revival Church (CRC) in Kimberley tel die dae na 10 April wanneer die nuwe megakerkgebou net buite die stad langs die N12-roete amptelik ingewy word.
Past. At Boshoff, die “visionêre kerkleier” soos hy op CRC Kimberley se sosialemediaplatforms beskryf word, sal die swierige opening waarneem.
Dit sal die “begin wees van ’n ongelooflike reis in ’n gebou wat geslagte gebruik sal word,” lui ’n kennisgewing op Facebook.
Boshoff het op 10 Maart in ’n regstreekse uitsending vanaf die CRC Pretoria op Faith TV gesê “goeie dinge gebeur in CRC”.
Op die betrokke dag het lede van dié charismatiese kerk ’n groter gerief in Kaapstad ingewy.
“In Potchefstroom is die eerste sooi vandeesweek vir ’n nuwe kerkgebou gespit. In Port Elizabeth is grond pas vir ’n nuwe kerkgebou gekoop, en op 10 April word ’n splinternuwe kerkgebou met 3 000 sitplekke in Kimberley geopen.”
Die nuwe kerkgebou is opgerig op ’n stuk grond waarop daar jare lank net ’n staalstruktuur van ’n ander kerkgebou was wat daarop gebou sou word. Daarna is die grond opgedeel in erwe wat te koop aangebied is, maar dit is skynbaar later deur Boshoff vir sy nuwe kerk bekom.
‘n Gemeentelid noem die kerkgebou die “verwelkomende ingangspoorte na die stad”.
Langs die kerkgebou word ’n nuwe struktuur vir ’n bekende hardeware-groep opgerig. By die toegangspad na die kerk is ’n nuwe verkeersirkel op die N12 aangebring om die verkeersvloei te vergemaklik. Tans word die parkeerterrein met plaveiselstene uitgepak.
Verlede jaar is ’n kilometerlange elektriese kabel van byna R1 miljoen tussen die bouterreine en die onbewaakte munisipale substasie gesteel wat die Sol Plaatje-munisipaliteit, wat nie erfbelasting van kerke vereis nie, noodgedwonge moes vervang.
Die nuwe gebou is veel anders as die kleiner gebou in Ernestville. Dié gebou is glo meer as 30 jaar oud. Twee oggenddienste is elke Sondag gehou om die meer as 2 500 kerklede te bedien.
Lede van tot so ver soos Roodepan, wat 15 km uit die stad is, word Sondae vir kerkdienste aangery.
Past. Boniswa Mohitlhi, woordvoerder van CRC Kimberley, sê hulle is opgewonde om na die nuwe kerkgebou oor te skuif.
“Die voltooiing is weens die pandemie vertraag. In die nuwe gebou sal ons een oggenddiens en een aanddiens hou.”


