Die weduwee van Pofadder wat van onder meer die moord op haar man Leon, sakeman en hotelier, aangekla word, het Woensdag (11/08) ’n nuwe regspan aangestel om haar te verteenwoordig.
Dit volg op Suretha Brits (30) se mislukte borgtogaansoek vroeër vanjaar in die hof in Pofadder en mislukte borgtogappèlaansoek in Julie in die hooggeregshof in Kimberley.
Sandy du Plessis van De Korte & Du Plessis ing. in Pretoria het Donderdag (12/08) bevestig dat sy Brits verteenwoordig nadat die vorige regspan, Drikus le Roux van Van der Westhuizen & Le Roux ing. in Kakamas, en adv. Sharon Erasmus die trekpas gegee is. Du Plessis sê sy het ‘n “magdom werk” wat vir haar voorlê.
Leon Brits (41) is op 7 Oktober 2020 verwurg in sy swembad gevind. Hy het ook steekwonde gehad. Die egpaar het drie kinders wat weens die mislukte borgtogaansoeke deur familielede versorg word.
Brits word in die gesig gestaar deur aanklagte van moord; roof van 15 Krugerrande, kontant van tussen R80 000 en R90 000, ’n geweer, twee pistole, ’n stel kluissleutels, ’n leersak van R3 500 en vier diamante met sertifikate; die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie; en regsverydeling.
Leon is in sy huis oorrompel en met ’n hondeketting verwurg. Brits het na bewering in September 2020 vir Jacques van Vuuren gewerf om haar man teen R400 000 te laat vermoor. Van Vuuren is reeds vir sy aandeel in die moord gevonnis en dien 20 jaar gevangenisstraf uit. Hy het in sy pleitverduideliking aangevoer hy het Enrich Williams (35) en Amantle Bareki (24) betrek, wat die moord gepleeg het. Williams en Bareki word saam met Brits verhoor.
Volgens Du Plessis beplan sy om volgende week na die Noord-Kaap te reis waar sy ook met die ondersoekbeampte en adv. Hannes Cloete, staatsaanklaer, wil vergader. Vandaar moet sy na Upington gaan waar Brits aangehou word.
“Ek moet indringend met Brits en ook die familie konsulteer, en veral ook oor die kinders se welstand. Die vergadering met Brits in die gevangenis gaan weens Covid-19-protokol moeilik wees. Heelwat logistieke reëlings moet getref word. Die moontlikheid van ’n nuwe borgtogaansoek op nuwe feite in die landdroshof in Pofadder sal ook bespreek word.
“Die mislukte borgtog-verrigtinge sal onder die loep geneem word. Ek moet met Brits oor die verhoor praat wat in November begin. Ons moet ook besluit oor die advokaat wat haar moet verteenwoordig. Die verhoor is om die draai, en daar is wavrag lêers wat deurgelees moet word. Ek kan nie die kans waag dat die lêers na my per koerier gestuur word nie, ek sal dit in persoon by die vorige prokureur gaan haal. Oud-generaal Bushie Engelbrecht wat as Brits se privaatspeurder aangestel is, staan my by. Ek glo hy het baie waardevolle agtergrond.”
In haar aanvanklike borgtogaansoek in Pofadder het Brits aangevoer dat haar swak gesondheid, haar afwesigheid by die ondernemings en die versorging van haar kinders – ’n dogter van 12 en tweelingseuns van tien jaar oud – haar vrylating op borgtog regverdig.
Sy het egter nie die staat se prima facie-saak uitgedaag nie en in kruisondervraging al die aantygings teen haar ontken. Brits was genoop om toe te gee dat sy nie sterwend is nie, hoewel sy gesondheidsprobleme het. Sy het ook toegegee dat sy lankal een van die ondernemings gesluit het, en die hotelle deur bekwame personeel bestuur word. Brits het egter volgehou dat sy vrygelaat moet word omdat haar kinders emosioneel van haar afhanklik is.
Regter Lawrence Lever het bevind dat indien Brits gepoog het om te bewys die staat se saak is swak, sou dit haar borgtogaansoek aansienlik versterk het.