Die weduwee van Pofadder wat van die moord op haar man, wat ’n bekende sakeman en hotelier in die dorp was aangekla word, se moordverhoor begin Maandag (15/11) in die hooggeregshof in Upington.
Suretha Brits (30) word daarvan verdink dat sy moordenaars gehuur het om haar man, Leon Brits, (41) te vermoor. Leon is op 7 Oktober 2020 met ’n hondeketting verwurg en in sy swembad by sy huis in Pofadder gegooi. Later die dag het Suretha van Kakamas gekom en die lyk ontdek.
Haar prokureur, Sandy du Plessis, het Sondagaand (14/11) gesê dat sy reeds vroeg by die hofgebou sal wees omdat sy nog aspekte met haar kliënt wil bespreek. Sy wou nie sê of sy die enigste lid van die regspan is nie. Suretha se privaat ondersoeker, oud-generaal Bushie Engelbrecht, sal ook by die hof wees om haar te ondersteun.
‘n Inwoner van Pofadder het Sondag gesê hulle het baie aan Leon op die eerste herdenking van sy dood gedink.
“Die verhoor gaan die hartseer weer na die oppervlak bring, en ons gaan daardie dag se gebeure weer herleef. Die onreg daarvan, dat ’n goeie en vrygewige man op só ‘n wrede wyse aan die einde van sy lewe gekom het, ontstel.”
Volgens haar is die dorpenaars besorg oor die egpaar se kinders, ‘n dogter en tweelingseuns, wie se lewe omgekeer is. Suretha se familielede sien om na die kinders.
Die eerste drie verdagtes is in die weke ná die voorval in hegtenis geneem, waarvan Jacques van Vuuren (37), ná sy skuldigbevinding en vonnisoplegging op 25 Maart 2021 ’n staatsgetuie geword het. Hy dien effektief 20 jaar tronkstraf van sy vonnis van 38 jaar uit weens die moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens. Van Vuuren beweer in sy pleitverduideliking dat Suretha die baasbrein agter die moord is. Sy was glo bereid om R400 000 vir die moord te betaal.
Die vermeende moordenaars is Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) wat saam met haar sal verskyn. Van Vuuren is ‘n staatsgetuie.
Benewens die moord-aanklag word hulle van roof met verswarende omstandighede en die diefstal van onder meer 15 Krugerrande, kontant, vier geslypte diamante en ’n leersak asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla. Suretha staar ook drie aanklagte van regsverydeling in die gesig omdat sy glo met staatsgetuies ingemeng het.
In die akte van beskuldiging het die staat 98 wesenlike feite uiteengesit wat ook die name van 114 staatsgetuies bevat. Suretha se ma, Ilse Coetzee, is een van die getuies. Werknemers van die Pofadder-hotel, familielede van Van Vuuren, asook Leon se broer, Tokkie Brits, is op die staatsgetuielys. Denton Nienaber wat beweer hy was Suretha se minnaar, is ook op die lys. Adv. Hannes Cloete, aanklaer, het met die mislukte borgtogaansoek uit Nienaber se verklaring voorgelees waarin hy beweer het Suretha het hom gevra of hy iemand ken wat haar man sal vermoor.
Suretha word sedert haar inhegtenisname aan die einde van Maart in die gevangenis in Upington aangehou nadat haar borgtogaansoek en appèlaansoek teen die weiering van borgtog misluk het.