Twee buitelandse burgers is in Steinkopf met sowat 1 000 plante van beskermde en bedreigde spesies in hul besit betrap.

Dit is een van die grootste beslagleggings op bedreigde plante van die Richtersveld wat die polisie nog gedoen het, sê kol. Mashay Gamieldien, polisiewoord­voerder. Sy sê die polisie in die Namakwa-distrik beveg die onwettige stropery van beskermde plantspesies meedoënloos.

Die polisie het reageer op inligting uit die gemeenskap oor twee verdagtes wat besig was om die plante te stroop.

’n Gesamentlike span het op Woensdag 23 Maart op die twee verdagtes, onderskeidelik 29 en 30 jaar oud, toegeslaan.

Die polisie het 312 Pelargonium crassicaule-plante (’n soort malva) en 639 Portulacaria pygmaea-plante (in Afrikaans bekend as ghaap) ter waarde van duisende rande op die perseel aangetref.

Die mans is in hegtenis geneem op ’n klag van die oortreding van die Noord-Kaapse Wet op Natuur­bewaring. Die polisie het ook op ’n Toyota Hilux-bakkie en selfone beslag gelê.

  • Die saak is Maandag (28/03) in die landdroshof in Springbok tydelik van die rol verwyder vir verdere ondersoek. ’n Nuwe hofdatum is nog nie beskikbaar nie.

You need to be Logged In to leave a comment.