Boervroue in die Carnarvon-omgewing het strikke om plaasheinings gebind om hul dankbaarheid oor die onlangse milde reën te bewys en diegene te bedank wat hulle in tye van droogte bygestaan het.

Foto: Verskaf

Ná milde reën wat die droogtegeteisterde Carnarvon sedert Oktober 2021 ontvang het, het boere en inwoners verlede week strikke om plaas- en dorpheinings gebind om dankie te sê.

Die idee van die “dankbaarheidstrikke” het ontstaan toe Riana Vermeulen, sekretaresse van die Agri Carnarvon-landbouvereniging, en Jan la Grange, voorsitter, saam met ander betrokkenes besin het oor hoe hulle hul dankbaarheid kan betoon aan mense en organisasies wat boere die afgelope jare met skenkings ondersteun het. Die skenkings het onder meer veevoer, brandstof, geld vir onderrig en bokse vir boervroue behels.

La Grange sê die woord “dankie” raak leeg wanneer dit te veel gesê word.

“Ons wou ons dankbaarheid op ’n ander manier betoon. Met die goeie reën is ons versigtig opgewonde dat die droogte gebreek is. Ons het die afgelope somer se reënvalsyfer vergelyk met dié van 2013, die jaar voordat die droogte begin het,” sê hy.

“Daarvolgens lyk dit asof ons 70% van die reën gehad het wat toe geval het. Ons wil nie meer bakhand staan nie. Dit is nie in ons gene om te ontvang nie. Ons wil nou gee.”

Vermeulen het een oggend gesien dat die dor veld groen geword het.

“ ’n Rustigheid en dankbaarheid het oor my gespoel. Ek het gevoel ek wil iets doen om my dankbaarheid te wys.”

Sy wou strikke op haar heining hang om haar vreugde te betoon.

“Jan en die res van die bestuur was opgewonde oor die idee van dankbaarheid­strikke. Die boervroue was dadelik geesdriftig. Sowat 80 vroue het in een naweek lap bestel. Ek het 160 m uit Oudtshoorn bestel, waarvan elkeen stukke van twee meter gekoop het.

“Dit het die Dinsdagaand aangekom, en is Woensdag­oggend uitgedeel. In minder as tien dae het die vroue die projek hul eie gemaak.”

Elke vrou het haar eie patroon gevolg om een of twee strikke te maak.

“Ons het rooi, geel en blou materiaal gebruik omdat dit helder is en dankbaarheid kan uitbeeld. Ons sê hiermee dankie vir die liewe Vader, en vir elkeen wat skenkings gedoen het en vir ons gebid het. Ons hoop dat ander dorpe ook strikke sal opsit, of dat mense ons sal besoek om die wapperende strikke te aanskou.”

Sy sê hulle het al heelwat komplimente van reisigers ontvang.

Boere en boervroue in die Carnarvon-omgewing het strikke op plaasheinings geplaas om hul dankbaarheid oor die onlangse mildelike reën en skenkers wat hulle in die droogte bygestaan het, te bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.