Streng maatreëls sal geld vir Suid-Afrikaanse ouers wat in die feestyd met hul minderjarige kinders uit die land wil reis, het dr. Michael Masiapato, kommissaris van die nuutgestigte Grensbestuursowerheid, verlede week gesê toe hy die beheermaatreëls uitgestippel het wat by grensposte sal geld.
Oor kinders het Masiapato gesê ouers wat met minderjarige kinders reis, word daaraan herinner om die kind se onverkorte geboortesertifikaat (unabridged birth certificate) byderhand te hê, tensy die minderjarige kind se besonderhede in die paspoort van ouers geëndosseer is.
“Indien een ouer egter in die afwesigheid van die ander ouer saam met ’n minderjarige reis, sal ’n toestemmingsbrief van die afwesige ouer vereis word wat toestemming aan die ander ouer verleen om die land met die minderjarige kind of kinders te verlaat,” het Masiapato gesê.
“Hierdie vereiste is van toepassing op Suid-Afrikaners wat van voorneme is om die land met ’n minderjarige kind te verlaat.”

