Die beeld van 'n donkie en bakkiespomp by die Kalahari-Oranje-museum in Upington
Die bekende beeld van ‘n donkie en bakkiespomp by die Kalahari-Oranje-museum in Schröderstraat. FOTO: Helena Barnard

Die Dawid Kruiper-munisipaliteit in Upington het ‘n straatnaamverandering wat onbepland is, en waarvoor nie begroot is nie, glo verlede week op ‘n spesiale raadsvergadering deurgedruk.

Dié straat, Schröderstraat, is een van Upington se oudste strate, en ook ‘n hoofstraat.

Rdl. Henk Opperman, DA-sweep van die munisipaliteit, sê dié party sal ‘n formele beswaar hierteen indien. Die party het teen die naamverandering van Schröderstraat gestem omdat geen planne hieroor in die 2025-’26-begroting vermeld word nie.

Geen verdere verduideliking vir die onverwagte naamsverandering is verskaf nie, behalwe ‘n instruksie van die LUR van samewerkende regering, Bentley Vass. Hy is glo deur die familie van ‘n ANC-lojalis genader.

“Ons bevraagteken ook dat ‘n bygewerkte naamveranderingsbeleid direk voor die voorstel vir die naamverandering van Schröderstraat ter tafel gelê is. Dié beleidbywerking is met onmiddellike ingang in werking gestel.

“Dit is hoogs onreëlmatig. Beleidbywerkings word altyd in werksessies met raadslede bespreek voordat dit op gewone raadsvergaderings ter tafel gelê word.”

Henk Opperman

Navrae oor hoe die naamverandering finansier sal word, het glo op dowe ore geval. Dit terwyl die munisipaliteit onder geldelike druk is en sukkel om sy krediteure te betaal.

“Benewens die prosedurele onreëlmatighede en die onbegrote koste, bevraagteken ons die besluit om een gedeelte van die geskiedenis met ‘n ander te herskryf, sonder ‘n geldige verduideliking,” sê Opperman.

Die DA sal skriftelike besware indien teen die manier waarop die beleidbywerking en naamverandering ter tafel gelê is.

“Ons sal die naamverandering teenstaan om te verseker dat naamveranderinge vir openbare kohesie gebruik word, en nie vir politieke oorwinning misbruik word nie.”

‘n Deel van Schröderstraat (heel links) in Upington. Die N14 strek deur die dorp as deel van Schröderstraat. Foto: Upington Information

‘Deelnameproses is nie gevolg’

Pogings om die naamsverandering van dié straat deur te druk, is volgens die burgerregte-organisasie AfriForum onbillik aangesien die voorgenome verandering nie aan ’n behoorlike openbare deelnameproses onderwerp is nie. AfriForum eis dat ’n inklusiewe openbare deelnameproses gevolg moet word.

Die kritiek volg op die Dawid Kruiper-munisipaliteit se planne om Schröderstraat na Q.A. Gubulastraat te hernoem. Q.A. (Alfred) Gubala was die leier van die United Democratic Front (UDF) in die Noord-Kaap en het gedurende die 1980’s opstande in Upington gelei.

Benewens die prosedurele probleme is dit ook, volgens die burgerregte-organisasie, ’n doelbewuste poging om die verandering van ’n naam wat groot historiese betekenis het, op ’n eksklusiewe en ondeursigtige wyse te dryf.

AfriForum voer aan dat naamsverandering ’n duur proses is en dat name eerder in nuwe ontwikkelings ingestel kan word of dat naamsverandering toegepas kan word op bestaande straatname wat nie soveel historiese waarde vir die gemeenskap het nie.

“AfriForum is gekant teen die eensydige en ondeurdagte naamsverandering,” sê Werner Strauss, die organisasie se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap. “Schröderstraat is deel van die dorp se geskiedenis en talle inwoners voel baie sterk daaroor dat dié straatnaam nie sommer net verander moet word nie.”

Schröderstraat is na ds. Christiaan Schröder vernoem, ’n sendeling wat in 1875 ’n kerk en sendingstasie op die dorp, toe bekend as Olyfenhoudtsdrif, gebou het. Schröder is ’n sentrale figuur in die stigting van Upington en vandag huisves die destydse sendingstasie die Kalahari-Oranje-museum.

AfriForum win regsadvies in en oorweeg dit om verdere stappe te doen, sou hierdie naamsverandering onregmatig deurgevoer word.

“Die burgerregteorganisasie doen ’n beroep op die gemeenskap om hul stem te laat hoor en dié voorgestelde naamsverandering teen te staan. AfriForum sal nie toelaat dat politieke ideologieë op ’n gemeenskap afgedwing word sonder dat behoorlike samesprekings gehou word nie,” sê Strauss.

Hy voeg by dat die bewaring van kultuur en geskiedenis ’n sleutelrol in onderlinge samehorigheid in die gemeenskap speel.

You need to be Logged In to leave a comment.