Alex Fraser (links), klubkaptein, oorhandig die beker aan Mind Olifant, die Bloemhof-gholfklubkampioen vir 2024.

Foto: Verskaf

Sakelui en boere van Bloemhof wat die munisipale nege-putjie-gholfbaan vyf jaar gelede oorgebou en opgeknap het nadat dit vervalle geraak het, se werk het vrugte afgewerp toe Mind Olifant, ’n plaaswerker, vroeër in April as die gholfkampioen gekroon is.

Olifant, wat op ’n voorgee van 12 speel, sê hy is verheug oor dié erkenning.

“Ek is al 13 jaar ’n baljoggie vir Dirk de Beer, my werkgewer.

“Hy het voorgestel ek word ’n klublid en speel saam. Dit was wonderlik om die kampioenskap te wen, hoewel dit ’n moeilike wedstryd was.

“Ek oefen in die week oor middagete op die driving range wat op die plaas gebou is.

“Saterdae is ek ’n baljoggie en Sondae speel ek op die dorp se baan.”

Olifant beplan om in meer kompetisies en vir die provinsie te speel.

De Beer, wat president van die Bloemhof-gholfklub is, Bennie Hoepfner, Theo van der Linde, Jean Steenkamp en Michiel Botha was die brein agter die opknapping.

Phillip Smith, nog ’n leidende gees en ’n bestuurslid én ook een van die aanvoorders, sê die baan was heeltemal vervalle, met wilde gras wat die putjies oorgeneem het.

“Die Lekwa-Teemane-munisipaliteit besit die grond, maar Magalies Water suiwer die water.

“Hul pompstasie en ’n dam is aan die kant van die gholfbaan gevestig, en drie putjies het in die uitbreiding van die watersuiweringsaanleg verlore gegaan.

“Ons het daarom drie nuwe putjies elders gebou en die gras hervestig. Gelukkig was die terrein groot genoeg om dit te kon doen. Gesuiwerde rioolwater word vir besproeiing gebruik.

“Die standaard van die baan is uiters goed.”

‘Gholf lewend’

Die klub is in 1906 deur delwers aan die gholfklub geskenk.

Teen 2019 het boere en sakelui die baan begin opknap nadat ’n ooreenkoms met die munisipaliteit aangegaan is.

Die baan is in die Covid-19-pandemie geopen.

“Die uitleg is oorgedoen en verskillende groepe mense het verantwoordelikheid vir elk putjie se opknapping aanvaar.

“Die belangrikste was die aanlê van ondergrondse besproeiing en pompe.

“Boere het die arbeid en toerusting geskenk. Spesiale gras is aangelê en masjiene aangekoop om die bane in stand te hou.”

Gholf is lewend in die streek.

Inwoners van die aangrensende dorp Christiana speel ook op dié baan.

“Die dorpe Bloemhof, Hartswater, Jan Kempdorp en Christiana speel in ’n liga teen mekaar.”

Smith sê sportklublede moet self inspring om parke en sportbane in die dorp te onderhou, en Dirlyn Boerdery en JCS Farming dra geldelik by.

“Die munisipaliteit doen dit nie meer nie.

Michiel Botha, voorsitter van die gholfklub, sê almal in die dorp het bygedra en saamgewerk om die gholfbaan op te knap.

“Nou word die baan ook vir pretdraf-geleenthede soortgelyk aan parkrun gebruik. Op 27 April is ’n marathon van Christiana na Bloemhof gehou en op 1 Mei is daar ook ’n pretdraf.

“Ons is van borge afhanklik. Spesiale gholfdae word gehou om geld in te samel om die jaarlikse onderhoud te betaal.

“Die proses is aan die gang vir ’n vaste kontrak met die munisipaliteit om die grond te huur en bestuur.”

You need to be Logged In to leave a comment.