Diepgaande grondverskuiwingswerk het verlede week in Upington begin om die oorsake te soek van lekkende water wat ’n “stinkende riooldam” by ’n vloedwaterkanaal weerskante van die Dr. Nelson Mandelarylaan naby die Kalahari Mall-inkopiesentrum veroorsaak.
Inwoners en besoekers kla al jare oor die stank van riool, asook die riete en gras wat ruig groei, sê Werner Strauss, streekskoördineerder van AfriForum.
Die plek is ook met vullis bestrooi.
“Ons doen die opruimingswerk saam met die Dawid Kruiper-munisipaliteit en die sakeman Wouter van Zyl. Wouter het sy grondverskuiwingsmasjien beskikbaar gestel en self gewerk.
“Sy masjien loop op spore, wat nie so maklik soos wiele in die modder wegsak en vasval nie.”
Die werk sal vir ’n paar weke duur omdat die modder moet uitdroog.
Volgens Strauss het almal gedink dit is ’n lekkende rioolpyp of mangat wat oorloop, wat die stroom water en stank veroorsaak.
Die plek is laag geleë, waar heelwat water gevolglik versamel.
’n Dag voor die uitgrawingswerk begin het, is die plantegroei afgebrand sodat die werkers beter kon sien waar die werk moet begin.
“Daar blyk ’n paar oorsake te wees. Ons het ’n verstopte vloedwaterkanaal ontdek wat van die inkopiesentrum na benede loop.
“Die verstopping het die water laat vrot.
“Dit is skoongemaak, maar water het steeds bly stroom.
“Ons het toe ontdek dat ’n varswaterpyp vanaf die Hoërskool Duineveld se kant ook lek.
“Die lekkende pyp moet nou eers reg gemaak word voordat ons verder kan grawe. Ek verstaan daar is nog dieper pype by die vloedwaterkanaal, wat moontlik ’n rioolpyp kan insluit.”
Strauss sê almal, van inwoners tot amptenare, moet saamwerk ter wille van die gemeenskap en die dorp se vooruitgang.
“Dit is wonderlik dat almal ingespring het om iets daadwerkliks te doen.
“Die probleem wat al oor jare kom, moet vir eens en altyd opgelos word.”
Van Zyl sê hy was bly hy kon help.
“Die munisipale voertuie sou in die modder vasgeval het.
“Ons het sover ons kon, gegrawe, voordat die water weer te sterk gevloei het.
“Ons sal wag tot dit droeër is, voordat ons verder werk om te verseker dat alle lekkende of verstopte pype ontbloot, en reg- en skoongemaak kan word.”
Patrick Williams, munisipale woordvoerder, het teen druktyd nog nie kommentaar gelewer nie.
Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.


