Twyfelhoekie: Stilte moet soms gedeel word

“Stil.” Dit is haar antwoord toe ek vra hoe dit met haar gaan. Sy antwoord niks meer nie.


“Stil.” Dit is haar antwoord toe ek vra hoe dit met haar gaan. Sy antwoord niks meer nie.

Ek het al beleef hoe mense baie praat en hulp soek as hulle swaarkry. Maar meer dikwels onttrek mense. Raak stil.

Soos sy.

Sy word net stiller. So sien niemand die seer nie. Hoor dit ook nie.

As dit stil gaan, kan dit goed én sleg wees. Dit kan goed wees as dit jou tyd gee om te oordink, lysies te maak en te beplan. Dit kan goed wees as dit jou die geleentheid gee om asem te haal, al jou opsies te deurdink en kragtig vorentoe te gaan.

Tog kan stilswye ook sleg wees as dit beteken dat jy van die lewe begin weggroei. Onttrek. As jy nie meer deel nie, nie meer praat nie.

Wanneer dit met jou stil gaan, is dit dus geweldig belangrik om te bepaal of dit ’n goeie of ’n slegte stil is.

Is die stilte jou tot waarde? Of moet jy hulp soek?

Ons moet ook daarop let wanneer dit met iemand anders stil gaan – die slegte soort stil.

Ons moet na mekaar omsien. Wanneer iemand te stil raak, moet ons omgee en vra en wonder.

Jy mag maar stil wees. In stilte leer ’n mens dikwels baie.

Maar moenie alleen aan jou seer dra nie. Moenie alleen sukkel nie. Soms moet jy iemand vra vir hulp.

Soms is dit nodig om jou stilte te deel.

You need to be Logged In to leave a comment.