Erfenisdag wat Woensdag 24 September gevier word, gaan vanjaar ekstra spesiaal wees met ‘n standbeeld van Paul Kruger wat sy tog na Orania begin en Steve Hofmeyr wat gratis optree.
Die jaarlikse feesviering by die Voortrekkermonument in Pretoria gaan vanjaar met feestelike boeremusiek en Volkspele by die Voortrekkermonument gevier word en duisende besoekers lok

Dit gaan vanjaar vir seker ’n dag vir die geskiedenisboeke wees. Op 24 September word die perde opgesaal, die kanonne gelaai en die pluiskuile afgestof vir ’n presidensiële makietie soos min om die 200ste herdenking van Paul Kruger se geboorte in 1825 af te skop.
Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste, word geen moeite ontsien om dié openbare vakansiedag onvergeetlik te maak nie. “Dit is sekerlik een van die grootste jare vir óns geslag. Afrikaans 100, GRA 150 en nou Kruger 200. Ons gaan nooit weer die geleentheid hê om geskiedkundige geleenthede soos dié in een jaar te gedenk nie.”

Volgens Brand is die dag se program só saamgestel om iets vir die hele gesin te bied en die Afrikanergemeenskap saam te snoer. “Die Kruger 200-makietie is ’n samevloeiing van die statigheid wat ’n president betaam en ’n eietydse speelsheid. Boeremusiek en Volkspele sal oudergewoonte deel van die program wees, maar die aanbod is groter as ooit: 200 stalletjies, tientalle historiese kanonne wat afgevuur gaan word, ’n besonderse Kruger-toneelstuk, die brons Kruger-standbeeld wat na Orania vertrek, en nog vele meer.”
Vir die kleinspan begin die dag met ’n Kruger-kleurloop (“colour run”), Kruger-skattejag en ’n inkleurkompetisie. Optredes deur die Kierang-buikspraakpoppe, Tant Toeta kom gooi ’n draai en Kierang kom skinder oor Oom Paul se tweeling, gaan oud en jonk met humor en nostalgie vermaak.

“Voeg hierby ponieritte, stokbrood maak, kameelritte, trapkarretjies, ’n treintjie, ‘Bungee’-trampolien, kettieskiet, gesigverf, ’n springkasteel en selfs honde-, perde- en brandweerdemonstrasies, en jy’t ’n wenresep wat die kleinspan heeldag besig sal hou.”
Terwyl die jongspan speel, kan die volwassenes die monument verken, Tant Gezina se teetuin en mark in die Liedjietuin besoek, die Voortrekkers se opedag meemaak, by die stalletjies snuffel of die Kruger-toneelstuk in die Voortrekkersaal bywoon. Die Kruger-sterftekamer in die Kruger-galery en Kruger-wisseluitstalling in die Senotaafsaal is beslis ’n besoek werd. Pa kan hom op sy beurt verkyk aan die veteraanmotors van die Pretoria Old Motor Club.

“Nadat die presidentspaar per koets arriveer, is ’n kleurvolle ZAR-kolwyntjiekoek, koffie en Kruger-knertsies op die spyskaart, gevolg deur ’n ‘staatsrede’ en afvuur van voorlaaiers en kanonne – in die kleure van die Zuid-Afrikaansche Republiek,” sê Brand.’n Spesiale groeteboodskap deur dr. Danie Langner vorm deel van die middagprogram voordat die Kruger-ewebeeld op reis na Orania vertrek.
“Die hoogtepunt van die dag is ’n optrede deur Steve Hofmeyr vir ’n skamele R20. Ons word te midde van die promotor-polemiek oorval deur navrae van mense wat wonder of dit nie ’n slenter is, óf dat die optrede gekanselleer gaan word nie. Beslis nie! Feesgangers kan hul vere regskud vir ’n uithalervertoning soos net Steve kan en dit is die perfekte afsluiting van ’n dag gevul met geskiedenis, taal, trots en tradisie,” sê Brand.
Algemene toegang tot die partytjie kos R20 en kaartjies tot die presidensiële kring en ander aktiwiteite kan ook hier gekoop word.
Ná 24 September word die viering van Kruger 200 voortgesit met besoeke aan verskeie dorpe tussen Pretoria en Orania.
Die groep met die standbeeld van Paul Kruger toer stop van daar op Rustenburg (25 September), Potchefstroom (26 September), Heidelberg (27 September), Parys (28 September), Vereeniging (Maandag 29 September) met ‘n program die middag in Parys, Vegkop by Heilbron op 30 September, Bloemfontein Woensdag 1 Oktober by die Vrouemonument en die middag in Kimberley voor dat dit op 3 Oktober in Orania aankom en op Vrydag 10 Oktober amptelik onthul word.






You must be logged in to post a comment.