Terwyl kiesers Maandag en Dinsdag spesiale stemme in die nasionale verkiesing uitgebring het, was die Verkiesingskommissie (OVK) se uitslagsentrum in Kimberley reeds bedrywig.

Foto’s: Helena Barnard

Na verwagting sal die eerste uitslae vanaf die kleiner stemlokale in die Noord-Kaap reeds op Woensdag 29 Mei rondom middernag die provinsie se uitslagsentrum in Kimberley bereik.

Die tellery in die Noord-Kaap behoort teen Donderdagnag afgehandel te wees, met die formele aankondiging van die nasionale uitslae wat teen Sondagoggend verwag word.

Dié aankondiging word op nasionale vlak deur die Verkiesingskommissie (OVK) hanteer.

Bonolo Modise, provinsiale verkiesingsbeampte van die OVK, het Dinsdagoggend kort voor druktyd van die publikasie gesê dat die eerste dag waarop spesiale stemme uitgebring is, vlot verloop het met min haakplekke.

Modise sê OVK-beamptes in die Noord-Kaap kon ongeveer 60% van spesiale stemme tydens huisbesoeke hanteer. Hy was vol vertroue dat die oorblywende ongeveer 40% op Dinsdag afgehandel sou word. Kiesers wat vir spesiale stemme aansoek gedoen het, kon Maandag of Dinsdag stem. Hy het kiesers wat vir spesiale stemme aansoek gedoen het en nie op die twee dae kon stem nie, herinner dat hulle Woensdag in stemlokale kan stem.

Terwyl kiesers Maandag en Dinsdag spesiale stemme in die nasionale verkiesing uitgebring het, was die Verkiesingskommissie (OVK) se uitslagsentrum in Kimberley reeds bedrywig.Foto’s: Helena Barnard

Elkin Topkin, ook van die OVK in die Noord-Kaap, sê daar was nagenoeg 83 000 aansoeke vir spesiale stemme in die provinsie. Hiervan was 31 000 om tydens ’n huisbesoek te stem, en 52 000 by stemlokale. Topkin sê 1 138 spanne was oor die provinsie versprei om die spesiale stemme te hanteer.

Sodra die stemlokale Woensdagaand sluit, begin die tellery by elke lokaal.

Die Joe Morolong- plaaslike munisipaliteit, geleë in die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit, het die meeste stempunte in die provinsie, terwyl die Sol Plaatje-munisipaliteit die hoogste aantal geregistreerde kiesers het.

Die verspreiding van die verkiesingsmateriaal na en van die verste punte van die Noord-Kaap – die grootste provinsie in die land – bied sy eie logistieke uitdagings, maar volgens Topkin was die OVK gerat om dit te hanteer.

Stemgeregtigde en geregistreerde Suid-Afrikaners stem in vandeesweek se nasionale verkiesing vir een van 52 partye op die nasionale kandidatelys, en nog meer op provinsiale vlak.

Die deelnemende partye ding mee om 400 setels in die parlement, en 487 in die nege provinsiale wetgewers.

In die sesde parlement, waarvan die termyn nou tot ’n einde kom, het die ANC 230 setels gehad, gevolg deur die DA met 84, die EFF met 44, die IVP met 14, die VF Plus met 10 en die ACDP met 4.

  • Stemlokale is Woensdag van 07:00 tot 21:00 oop.

You need to be Logged In to leave a comment.