Om warm klere by die Bophelo-kinder-en-jeugsorgsentrum in Kimberley uit te kry voor die erge koue sou toeslaan, het Allen Visagie sy projek vir Mandela-dag met ongeveer twee weke vervroeg.

Visagie, ’n inwoner van die Sally Aucamp-huis vir volwassenes met liggaamlike gestremdhede, se droom is dat elkeen ’n hand sal uitsteek om die een langs hom of haar in nood se dag op ’n manier ligter te maak.

“Dit is tog hoekom ons op aarde geplaas is,” glo hy.

Volgens Allen Visagie is die 67 minute wat vir Mandela-dag afgestaan kan word, ’n baie klein deeltjie van ’n mens se tyd wat jy kan gebruik om uit te reik, om te doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy is.

Visagie is die afgelope jaar baie nou by Bophelo, geleë in Herlear, betrokke en is daar besluit om dié tuiste vir vondelinge te ondersteun.

Sy projek om warm klere aan die jong inwoners van Bophelo te verskaf, is nie ’n eenmansprojek nie en skenkers het na vore gekom om Visagie se droom vlerke te gee.

So het ’n 96-jarige vrou warm truitjies gebrei, terwyl Endry Strauss en Rina Groenewald slaapsokkies vir koue voetjies gebrei het.

Saam met dit het allerlei ander warm babagoed wat ingesamel is, ook hul weg na Bophelo gevind.

Soos voorheen was Groenewald Visagie se hande en voete om hom direk by te staan om sy projek tot uitvoering te bring.

“My hande wil altyd besig bly,” sê Groenewald, en sê dat sy die inwoners van Sally Aucamp weekliks besoek.

Dié vervroegde uitreikdag, wat op 4 Julie plaasgevind het, kon Visagie ongelukkig nie self meemaak nie omdat hy ongesteld was.

Visagie is nietemin goed verteenwoordig deur Groenewald, Natalie Willemse en haar seun, Wian, asook Daphné de Beer wie gereelde besoekers by Sally Aucamp is.

Saam met die warm klere en warm harte het hulle die kinders ook op worsbroodjies en ’n pakkie lekkergoed trakteer.

Op hierdie stadium is daar tien babas en tien groter kinders in die Bophelo-huis.

Die twee huismoeders, Sanna Seekoei en René Beukes, is twee omgeemense wat nie sal skroom om die ekstra myl te loop nie, sê van die betrokkenes op dié uitreikdag.

“Hulle is die hart van Bophelo. Mag hulle baie krag en genade ontvang om hierdie groot taak met ywer te doen,” sê hulle.

Hulle beskryf ook vir Allen as iemand met ’n “omgeehart groter as ’n rugbybus vol Griekwas-ondersteuners”.

Visagie is oorspronklik van Upington, en is sedert 2016 ’n inwoner by Sally Aucamp.

Verlede jaar op Mandela-dag het hy ’n sop-en-brood-uitreiking vir die wagtendes by die Beaconsfield-kliniek beplan en onderneem.

“Reik uit. Maak tyd om uit te reik. Mense kry swaar,” het hy toe aan NoordkaapBulletin vertel, en het hy beklemtoon hoe goed dit vir hom is om terug te kan gee juis omdat hy self so baie ontvang.

“Luister na jou hart. As jy die ou wat jy elke dag by die verkeerslig sien, vandag op ’n ander manier raaksien, reik net uit.

“Jy kan nie dink hoe ’n groot verskil dit maak nie,” sê Visagie.

Met erkenning aan dutoitspan.blogspot.com

You need to be Logged In to leave a comment.