’n Geseënde Paastyd met ’n eerste staptog van sy soort in Florianville, Kimberley.
Só beskryf past. Margareth Vilander die Kruisweg-staptog waaraan jeugdiges op 15 April – Goeie Vrydag – deelgeneem het.
Vilander, in bediening aan die Evangelies-Lutherse kerk St. Sylvester, sê die doel was om mense weer van Paasfees se betekenis bewus te maak, dit te herdenk en te beleef. Die staptog het by die kerk geëindig.
“Ek het ons jeuglede as die karakters gebruik. Ons gemeentelede, en lede van die gemeenskap, het saam met die optog beweeg omdat dit ’n eerste keer hier plaasgevind het. Die opkoms was groot want baie wou dit aanskou en beleef.”
Die staptog, deel van die gemeente se Paasfeesvieringe, gedenk Jesus se lydensweg op die Via Dolorosa. Sy wil dit ’n jaarlikse instelling in Florianville maak.
Vilander, wat haarself as “jonk in die bediening” beskryf, is in 2019 as pastoor van die Evangelies-Lutherse Kerk in Suidelike Afrika georden. Die Florianville-gemeente is haar eerste as geordende pastoor.
“Ek is van Keimoes en het as jeugwerker daar met jeugstaptogte begin.”
Sy is gaande oor jeugdiges en is van mening dat onbetrokke ouers hul grootste struikelblok is. Groepsdruk en selfbeeldkwessies kry hulle ook baie kere onder, en lei tot verkeerde besluite.
Vilander sê ouers moet liefde en omgeeharte betoon deur byvoorbeeld elke dag te sê: “Ek is lief vir jou, my kind.”
Sy sê dit is tuis waar die grondslag gelê word, en waar kinders vir die toekoms voorberei word.
“Die wêreld is onbestendig. Ons kan ons kinders leer van gevare, maar ons kan nie waarborg dat hulle nie langs die pad afdwaal en seerkry nie. Maar berei hulle minstens voor sodat hulle die regte besluite kan neem en tussen reg en verkeerd kan onderskei.”
Haar ouers se geestelike opvoeding, hul liefde en ondersteuning, die Here se Woord en groot genade het haar staande gehou. Sy het ook nog altyd aan Psalm 119:9 geglo: Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.
Haar ouers het dit nie breed gehad nie, en Vilander se kinderjare het haar geleer om te waardeer wat daar is.
“Dit het my vroeg reeds selfstandig gemaak en geleer om te help waar nodig. Ek wil jeugdiges leer dat ’n mens bo omstandighede kan uitstyg.”


