Munisipale werkers van Kimberley se staking wat verlede Donderdag begin het, is verby.
Die werkers van die Sol Plaatje-munisipaliteit sal volgens Dailey Semau, voorsitter van die Sol Plaatje-tak van Samwu, Dinsdag om 07:45 vir werk aanmeld.
“Die ANC op plaaslike en streekvlak het ingetree en met ons onderhandel.
“Ons sal more hul terugvoering bestudeer en verder reageer, maar die staking is vir eers oor.”
Dit volg nadat sommige werkers verlede Vrydag beseer is toe die polisie op hulle voor die burgersentrum losgebrand het.
Die staking het reeds verlede Donderdag begin toe vakbondlede voor die stadsaal vergader het om die munisipaliteit oor die staking in te lig.
“Die verslag wat die munisipaliteit oor ons griewe saamgestel het, is onaanvaarbaar. Ons het dit in die geheel verwerp.
”Semau het hul belangrikste eise verduidelik.
“Ons eis dat een van die bestuurders afgedank word weens die miljoene rande wat hy sedert 2016 aan regskoste in sake teen ons lede bestee het.“
Die munisipaliteit het ook geen stappe gedoen teen ’n vorige waarnemende stadsbestuurder wie se seun onwettig aangestel is nie.
“Die aanstelling van die huidige waarnemende munisipale bestuurder was ook nie korrek nie.
“Sy was as ’n projekbestuurder veronderstel om aan die raad te verduidelik hoekom sy weens die wanbestuur van ’n projek nie geskors moes word nie. Pleks daarvan is sy op ’n omstrede raadsvergadering as die nuwe waarnemende stadsbestuurder aangestel.
”Hy beweer daar is twee bestuurders in die speaker se kantoor, wat
“ ’n vermorsing van belastingbetalers se geld is”.
“Die een bestuurder se kontrak moes saam met die vorige burgemeester se termyn beëindig word. Daar is eintlik net een vaste bestuurpos in die speaker se kantoor.”
Groot ontevredenheid heers ook oor ’n forensiese ondersoek wat na beweerde wanbestuur in die munisipaliteit ingestel is.
“Sedert die forensiese verslag en aanbevelings verlede jaar opgestel is, is dit nie op ’n raadsvergadering bespreek, aanvaar of toegepas nie.”