Frustrasie van werknemers onder die Sol Plaatje-munisipaliteit het vroeër vanjaar daartoe gelei dat ommel voor die munisipale gebou uitgegooi is.
Frustrasie van werknemers onder die Sol Plaatje-munisipaliteit het vroeër vanjaar daartoe gelei dat rommel voor die kantoorgebou uitgegooi is. Foto: Helena Barnard

Thapelo Matlala, die stadbestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, moet teen Vrydag 12 September amptelik reageer op ‘n brief van die burgemeester en haar raad oor hoekom hy nie geskors moet word nie weens ondersoeke deur die Valke, Openbare Beskermer en die Spesiale Ondersoekeenheid.

Dit volg op ‘n raadsbesluit op ‘n spesiale raadsvergadering op 4 September ná ‘n dringende versoek twee dae tevore van verskeie gemeenskaporganisasies en die Noord-Kaapse Sakekamer dat hy afgedank word. Die organisasies het benewens hul eie vermoedens ook ‘n mediaberig voorgehou waarin bewerings van korrupsie teen Matlala gemaak word.

Die organisasies wat optrede teen Matlala eis, is die Kimberley Action Group, Sol Plaatje Gemeenskapforum, Operation Wanya Tsotsi, Operation Fiela, Women Waging War against GBV, Justice For All, Community Alliance South Africa (Casa), Abahambe en die Sol Plaatje Sakeforum.

Tumelo Mosikare
Tumelo Mosikare Foto: Charné Kemp

Volgens hul woordvoerder Tumelo Mosikare is hulle al reeds jare lank bewus van “knoeiery by die munisipaliteit onder Matlala se beheer. Dit is daarom verblydend dat soveel burgerlike organisasies vir die eerste keer saamstaan en optrede van die raad eis. Ons as leiers het die ampsdraers versoek om op te tree.”

Mosikare beweer Matlala stel op onreëlmatige wyse diensverskaffers aan met wie hy jare gelede in Limpopo saamgewerk het.

“Aanstellings van amptenare wat na aan hom is en van elders kom, is by die munisipaliteit gemaak. Voorts het hy ‘n arrogante houding en jak hy mense af wat nie met hom saamstem nie.

“Nog ‘n kwessie is dat hy vier diensverskaffers aangestel het om teen betaling of kommissie inwoners met agterstallige elektrisiteitsrekeninge se toevoer af te sny sodat hulle betaal. Dit grens aan teistering.”

Die misdaadondersoek behels die R6,8 miljoen wat aan Kapa Koni Investments betaal is om die Eaglestraat-pompstasie op te knap.

“Ons het verlede Dinsdag met onder andere die speaker en hoofsweep vergader en Matlala se afdanking geëis. Hulle het die waarnemende premier se kantoor geraadpleeg wat ‘n spesiale raadsvergadering ingevolge die regulasies aanbeveel het. Op die spesiale vergadering het raadslede ingevolge wetgewing besluit om ‘n brief aan Matlala te stuur. Hy moet binne sewe dae redes verskaf hoekom hy nie afgedank moet word nie. Daarna moet die raad ‘n besluit oor ‘n ondersoek en sy toekoms neem. Ons as die gemeenskap sal eis dat hy afgedank moet word.”

Matlala het reeds gewone verlof geneem en is Khuza Bogacwi as waarnemende stadsbestuurder aangestel.

Mosikare sê hulle tree nie geweldadig op nie, en pak die probleem by die oorsaak.

Thapelo Matlala vroeër vanjaar tydens ‘n inligtingsessie. Foto: Helena Barnard

‘Aantygings noodsaak onmiddellike, onafhanklike ondersoek’

Willie Erasmus, DA-raadslid, sê  in ‘n verklaring hulle “dring daarop aan dat die tydlyne vir die ondersoek en enige daaropvolgende dissiplinêre stappe teen Matlala streng nagekom word.

“Ons beskou die bewerings in ‘n baie ernstige lig en is gekant teen korrupsie. Die DA het teen Matlala se aanvanklike aanstelling gestem nadat belangrike keuringskriteria van die raad weerhou is. Ons het meer geskikte kandidate geïdentifiseer en ondersteun.

“Geregtigheid moet geskied, maar belastingbetalers moet beskerm word teen oorhaastige besluitneming en die versuim om behoorlike prosesse na te kom. Behoorlike gevolgebestuur moet implementeer word.”

Erasmus het verwys na die vorige voorval waarin Goolam Akharwary as geskorste stadsbestuurder steeds sy volle salaris vir die hele termyn verdien het sonder dat hy ooit amptelik gedissiplineer of aangekla is.

“Ons was verbaas dat die burgemeester, speaker en hoofsweep van die ANC die saak formeel met die gemeenskap bespreek het sonder om die raad in kennis te stel. Die DA ondersteun ‘n spoedige en onbevooroordeelde ondersoek. Die korrekte tydlyne vir die skriftelike indiening van vertoë deur Matlala, en die raad se reaksies op die vertoë, moet nagekom word. Gevolgebestuur moenie ontspoor word nie en belastingbetalers se geld moet beskerm word,” sê hy.

Theo Joubert, VF Plus LPW, sê hul party het twee weke gelede reeds ‘n mosie ingedien dat Matlala voorlopig geskors word.

“Nou is dit weer op die lange baan geskuif.  Die speaker, Dipuo Peters, moet besef dit is pligsversuim, maar kan ook tot uitgebreide onrus te lei.

“Sy het op 2 September die eerste keer geweier om die VF Plus se mosie tydens ‘n raadsvergadering toe te laat. Ons wou voorstel dat Matlala tydelik geskors word hangende ‘n onafhanklike ondersoek na aantygings van ernstige korrupsie.

“Deur die mosie te stuit, het Peters die plig van raadslede om die munisipale bestuur verantwoordbaar te hou, ondermyn. Dit skep die indruk dat die raad se toesigfunksie doelbewus verlam word om een individu te beskerm ten koste van Kimberley se inwoners.”

Hy meen dis in stryd met die grondwetlike plig tot deursigtigheid, aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid.

“Dit is hoekom gemeenskapslede bande gebrand en op die onmiddellike skorsing van die stadsbestuurder aandring. Ons suksesvolle mosie sou die plofbare situasie voorkom het.

“Die VF Plus meen ernstige aantygings teen Matlala noodsaak ‘n onmiddellike en onafhanklike ondersoek. Hy moet intussen geskors word om moontlike inmenging met die ondersoek te voorkom. Dit blyk dat die ANC-beheerde raad vir tyd speel en die saak nie met die nodige erns hanteer nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.