Deur op ’n Sondagmiddag deur Kimberley se middestad te ry, beleef ’n mens dié stad se glorie van weleer, asook die hedendaagse ritme en kleur.
Sonder die gewemel van mense, in die afwesigheid van toeterende en dreunende voertuie en oorverdowende musiek uit luidsprekers by winkeldeure, sien ’n mens hoe oud en nuut, histories en modern, hand vat.
Op so ’n Sondagmiddag kan jy jou die siel van Kimberley verbeel; jou die unieke gebeure wat tot sy totstandkoming gelei het, indink; die passie, drome, lag en trane van individue, groepe en ondernemings wat tot die kosmopolitiese stad in die kleine bygedra het, byna voel.
Mense wat hier gebore is en steeds hier woon, beskou dit as hul plek. Inkommers is in die Noord-Kaapse hoofstad omdat hulle ’n geleentheid hier raakgesien het – ’n beter lewe.
Dit neem nie lank om te sien dat Kimberley se mense die stad verloën het nie, dat hulle hul blyplek in die steek gelaat het. Verf dop van geboue af; uithangborde dof gebrand deur die Noord-Kaapse son probeer moedig ’n naam uitspel; rommel van besighede en voetgangers wys nie-omgee uit, so ook die lekkende waterpype, strukture wat gevandaliseer is, oorgroeide oop ruimtes . . . Seemeeue kras oor brandende hope vullis.
Straatkinders met oumensgesigte en dofstarende oë buk oor gebreekte asdromme. Vergete museums staan droewig; nuwer projekte onvoltooid.
’n Mens wil huil oor die weemoed van die middestad, so op ’n Sondagmiddag.
Op so ’n middag wil ’n mens die trem van die mynmuseum sien ry; sy waarskuwingsklok by padkruisings hoor klingel. ’n Mens wil vrolike samesyn tussen entrepreneursmarkte op die stadsplein beleef; braaimielies en worsbroodjies ruik, laggende kinders met spookasem sien huppel. ’n Mens wil met die sypaadjies langs en deur oop ruimtes stap sonder die vrees van besering deur ’n aanvaller of ’n onverwagse gat.
’n Mens wil trots en opgewonde wees en sê: Kom Kimberley toe, kom kyk wat het ons wat ’n verskeidenheid van tale praat, hier reggekry.
Maar ’n mens kan nie. Want ’n mens kry te skaam.