Sprinkane ‘oorweldig’

Boere in die Noord-Kaap swoeg om die sprinkaanplaag in die provinsie onder beheer te kry.


Boere in die Noord-Kaap swoeg om die sprinkaanplaag in die provinsie onder beheer te kry.

Hoewel die Noord-Kaapse landboudepartement grondspanne, helikopters en ander lugbystand ontplooi het om die plaag te bestry, kan hulle nie voorbly om die sprinkane gou genoeg met gif doodgespuit te kry nie.

Tussen Keimoes en Kenhardt was massiewe swerms vlieërsprinkane en voetgangers Maandag (07/03) vir kilometers aaneen in die veld, op die paaie en in die lug te sien.

’n Helikopter is gebruik om die sprinkane te bestry in moeilik begaanbare gebiede wat grondspanne nie met bakkies kan bereik nie.

Rassie van Zyl, ’n boer van Kenhardt, wat een van die grondspanne bestuur, het by Kenhardt gehelp waar ’n helikopter swerms uit die lug bespuit het.

Hy sê die groot uitdaging is veral plase wat verlate lê weens die droogte. Van dié plase se hekke is gesluit. Ná goeie reën het die veld ook baie ruig gegroei, wat veroorsaak dat voertuie nie op sommige plekke kan ry nie.

Die sprinkaanplaag is die ergste in meer as 30 jaar, het Zandisile Luphahla, woordvoerder van die landboudepartement, vroeër gesê.

Intussen het verskeie maatskappye soos Santam en Sanlam saam meer as R250 000 aan Agri SA geskenk om boere in die Noord-Kaap by te staan om die plaag te bestry.

Vrystaat Landbou (VL) het vir dié doel R50 000 aan Agri SA se rampfonds geskenk.

Agri SA het ’n beroep op instellings gedoen om te help met die finansiering van die dringende lugbespuiting van sprinkane in die Noord-Kaap, waar sprinkaan­beamptes deur massiewe swerms oorweldig is.

Die regering was nie gerat om ’n noodplan vinnig uit te voer ná ’n dringende versoek deur georgani­seerde landbou vir ondersteuning met lugbespuiting nie en ’n tenderproses moes eers begin.

Wilken waarsku dat sprinkane nog kan uitbroei totdat die eerste ryp middel April voorkom.

Die gunstige, vogtige weerstoestande dra daartoe by dat die plaag buite beheer geraak het.

Luphahla sê die departement probeer so vinnig moontlik nog ondersteuning met lugbespuiting kry. 33 Noord-Kaapse dorpe is deur die plaag geraak.

  • Sprinkane broei in gunstige, vogtige en warm toestande ná goeie reën uit. Die wyfies lê veral hul eiers in sagte, sanderige grond. Dit neem 56 dae vir die voetgangersprinkane om die vlieërstadium te bereik. In dié tydperk verorber hulle alles. In die vlieërstadium kan sprinkane verder as 100 km per dag vlieg.

Miljoene sprinkane op die pad tussen Keimoes en Kenhardt.

You need to be Logged In to leave a comment.