‘Sprinkane bring nuwe droogte’

’n Girokopter word nou ingespan in die stryd teen die sprinkaanplaag in die Noord-Kaap.


’n Girokopter word nou ingespan in die stryd teen die sprinkaanplaag in die Noord-Kaap wat in November uitgebroei het ná goeie reën in Oktober.

Zandisile Luphahla, woordvoerder van die departement van landbou en omgewingsake, sê sowat 35 gebiede in die Boesmanland, Kalahari en Karoo word geraak. Hulle het reeds 150 mense opgelei om gif te spuit.

“Ons het sewe gebiede waar swerms groot en bestryding moeilik is. Ons het nog meer boere betrek en lei al meer mense op om die insekte met gif te bespuit.

”Die gebiede waar dit baie erg is, is Gamoep, Kamieskroon, Pofadder en Springbok. Die ander gebiede is Gordonia-Wes (Dwaalhoek), Upington, Marydale, Griekwastad, Sutherland, Calvinia, Williston, Loeriesfontein, Noenieputs, Kliprand, Kenhardt en Groblershoop. Die sprinkane kom ook in De Aar, Prieska, Britstown, Loxton, Victoria-Wes, Carnarvon, Richmond, Colesberg, Philipstown en Petrusville voor. 

“Ons grootste uitdaging is onbewoonde plase waar sprinkaanswerms nie gewaar en aangemeld word nie, meentgronde en onbegaanbare gebiede. Die girokopter word ingespan om die swerms te bespied en die inligting aan grondspanne te gee wat insekdoder moet spuit.” 

Martin Compion, wat buite Pofadder boer, sê hulle werk hard. Hy moet daagliks sy skaapkuddes in krale voer omdat daar nie meer weiding weens die droogte oor is nie, en sprinkane bespuit. 

“Die sprinkane vreet alles op. Daar waar hulle geloop het, is die aarde kaal. Die sprinkane veroorsaak ook droogte. Dié insekte is nou in die rooibaadjie stadium en gaan eersdaags vlieg en eiers lê.”
Martin Compion

Hy sê hulle kan ook spoorsny om swerms voetgangers op te spoor. 

“Daar waar hulle geloop het, lyk dit asof die grond gevee is. Ek kap bakens in die grond waar ek weet neste is, sodat ons dit vroeg kan bespuit. Maar ’n mens kan nie oral uitkom om te sien waar die neste is nie. Dit is asof die rooibaadjies bestand teen die gif is, of dalk is die pompe foutief. Jy moet ’n paar keer spuit voor hy vrek. Ek het al van die swerms drie keer bespuit.” 

Vroeër het Nicol Jansen, adjunkpresident van Agri SA, gesê tot 400 nuwe swerms sprinkane broei daagliks in die Noord-Kaap uit en het ’n “nuwe droogte” in dié provinsie veroorsaak. Volgens hom is die uitbreking vanjaar groter as verlede jaar en kan teen middel Desember ’n groot bedreiging vir wingerde en ander gewasse in die besproeiingsgebiede teen die Oranje- en Vaalrivier inhou, berig Alet van der Walt. 

Jansen sê die sprinkane verorber die nuwe weiding wat ná die goeie reënval begin uitkom en skep ’n “tweede droogte” in die provinsie.“

Waar die terrein onbegaanbaar vir voertuie is, loop mense met rugsakspuite in die veld om die sprinkane te bespuit.

Dr. Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder van CropLife SA, sê die sprinkane kan maklik 40 km tot 50 km per dag vlieg. Plaagdoders is reeds deur die nasionale departement na ’n depot in De Aar gestuur. Die departement vra dat mense nuwe uitbrekings by 053-631-3621 of 084-760-8176 aanmeld.

You need to be Logged In to leave a comment.