Voetgangersprinkane op die pad tussen Keimoes en Kenhardt. Boere moes vroeër vanjaar bontstaan om die sprinkaanplaag in bedwang te kry.

Foto: Anena Burger Credit: SYSTEM

As voorsorg nie getref word nie, moet die land voorberei vir ’n groter probleem met sprinkane as verlede jaar, sê Agri SA.

Meer as 23 miljoen ha is in die vorige somerseisoen tydens die ergste uitbreking in 25 jaar geraak. In dié tyd het sprinkane die gebiede geïnfiltreer, wat dui op nog ’n moeilike komende seisoen vir boere, sê Willem Symington, voorsitter van Agri SA se sentrum van uitnemendheid en natuurlike hulpbronne.

“Tot 90% van die 23 miljoen ha grond wat geïnfiltreer is, is landbougrond. Tensy dringende stappe gedoen word, kan ons groter verliese in 2023 verwag.”

Uitbrekings is reeds in dele van die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Wes-Kaap aangemeld.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens word bogemiddelde reënval dié somer verwag. Dus kan vernietigende swerms in die somerseisoen voorkom namate sprinkaaneiers uitbroei.

Symington sê die kontrakte van spinkaanbeamptes is nie tydig hernu nie, ongeag die erns van die bedreiging.

Agri SA het ’n dringende vergadering met Thoko Didiza, minister van landbou, en Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal van die departement van bosbou, visserye en die omgewing, gereël om die departement se reaksie op die dreigende ramp te bespreek.

Agri SA sê hulle sal praat oor die dringende uitreik van sprinkaanbeamptes se onafgehandelde kontrakte, verkryging van insekdoder en spuittoerusting, verspreiding van beskermende toerusting vir beamptes, opleiding van nuwe beamptes en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) se finalisering van eise vir betaling, en ’n oop kommunikasielyn met die DALRRD vir oplossings.

“Uitdagings wat in 2021 en 2022 ervaar is, moet voor 2023 aandag kry. Voorheen is baie daarvan slegs deur geld van die private sektor aangepak.”

Navrae is aan die Noord-Kaapse landboudepartement gerig. Zandisile Luphahla, woordvoerder, het bevestig dat die departement later hierop sal reageer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article