Sprinkaanplaag ‘buite beheer’

Daar is nie genoeg toerusting om die sprinkaanplaag, wat sedert einde verlede jaar in die Karoo en dele van die Noord-Kaap woed, onder beheer te bring nie.


Daar is nie genoeg toerusting om die sprinkaanplaag, wat sedert einde verlede jaar in die Karoo en dele van die Noord-Kaap woed, onder beheer te bring nie.

Só sê Christo Meyer, ’n boer van Prieska wat by die bespuiting van die sprinkaanplae betrokke is.

Hy sê die “rooi voetgangers” – soos die sprinkane bekend staan voordat hulle binne twee weke vlerke kry – is nou volop op die paaie.

Hy beskryf die paaie as “vetterig” en “glad” van al die sprinkane wat doodgetrap word.

“Die grootste fout wat motoriste kan maak, is om te jaag. Die sprinkane pak aan jou motor se verkoeler vas, dan is dit verby.”

’n Distrik-sprinkaanbeampte het Vrydag (18/02) ’n ongeluk tussen Britstown en Victoria-Wes aangemeld. Hy sê die motor het op sy dak gelê.

Die beamptes versoek motoriste om op die situasie bedag te wees en uiters versigtig te bestuur.

Meyer sê verlede jaar se plaag was “ ’n kuiken” teenoor vanjaar s’n.

Riaan Barden, ’n sprinkaanbeampte van Hopetown, stem saam. Hy spuit al jare lank gif teen die sprinkane, maar reken vanjaar s’n is die grootste plaag wat hy nog gesien het.

In sy distrik is die plaag “ ’n bietjie agter die ander ouens”, en die sprinkane is nog klein en swart.

“Die staat het nie meer pompe (vir die spuit van die gif van agterop ’n bakkie) nie. Daar is soveel sprinkane dat daar eenvoudig nie meer pompe beskikbaar is nie. Die situasie is buite beheer.”

Meyer sê die sprinkaanplaag het verlede jaar in die Oos-Kaap begin, en toe in November “bietjies-bietjies” by Prieska uitgebreek.

“Ons het eers ’n klein uitbreking gehad, maar toe is daar ’n swerm uit die ooste wat ons nie kon doodkry nie. Toe kom lê hulle eiers in Januarie. Sedertdien is dit chaos.”

You need to be Logged In to leave a comment.