Spring só die sprinkane voor

Die swerms sprinkane wat tans oor groot dele van die Noord-Kaap voorkom, het benewens geweldige skade wat aan weiding en ander plantegroei aangerig word ook ’n invloed op padveiligheid.


Die swerms sprinkane wat tans oor groot dele van die Noord-Kaap voorkom, het benewens geweldige skade wat aan weiding en ander plantegroei aangerig word ook ’n invloed op padveiligheid.

Die uitvoerende hoof van MasterDrive, Eugene Herbert, sê die hoofrede hiervoor is sigbaarheid wat drasties benadeel word wanneer dié insekte in swerms teen ’n voertuig se voorruit vasvlieg.

“ ’n Swerm sprinkane wat teen ’n voertuig vasvlieg, kan ook moontlik skade veroorsaak deurdat die verkoeler verstop word en dit só oorverhitting veroorsaak.”

Neem dié wenke in ag wanneer jy ’n swerm sprinkane op pad teëkom:

  • Indien sigbaarheid drasties verswak, ry stadiger of stop selfs. Wanneer jy stop, maak seker dat jy veilig van die pad kan aftrek. Onthou dat ander motoriste se sig ook belemmer is en hulle moontlik in jou voertuig kan vasry. Wanneer jy stop, skakel die noodligte aan en die enjin af indien die verkoeler wel deur die insekte verstop is.
  • Indien sigbaarheid goed genoeg is om stadig aan te ry, hou die enjin se temperatuurnaald dop vir oorverhitting.
  • Die dooie sprinkane op die pad maak die oppervlak geweldig glad, ry daarom stadiger.
  • MasterDrive beveel aan dat motoriste altyd hul voertuig se hoofligte aanskakel wanneer hulle op pad is, met die doel om hul sigbaarheid vir ander voertuie te verbeter. Wanneer deur ’n sprinkaanswerm gery word, moet dit beslis aangeskakel wees.
  • Wees bewus van verkeer voor of agter jou en neem in ag dat daardie motoriste se sig ook belemmer is.
  • Die gebruik van die ruitveërs gaan sigbaarheid verder verswak omdat dit die insekte aan die ruit oor die hele oppervlak smeer.
  • Sodra jy uit die swerm gery het, trek op ’n veilige plek langs die pad af om moontlike skade te bepaal.
  • Maak seker dat jy skoonmaakmiddels in die voertuig het om die voorruit en ander ruite mee te was. Onthou om ook die voorligte skoon te maak.
  • Verwyder insekte wat aan die verkoeler vassit.
  • Wanneer in ’n gebied gery word waarin sprinkaanswerms voorkom, wees voortdurend bewus van die onmiddellike omgewing en naderende swerms.

“ ’n Mens wil nie onverwags deur ’n swerm sprinkane omsingel word nie. Indien dit wel gebeur, hou hierdie wenke in gedagte en bly kalm,” sê Herbert.

Motoriste wat swerms sprinkane in die Noord-Kaap opmerk, moet dit onverwyld by 053-631-3122/3261 aanmeld.

Andersins kan ’n foto van die swerm en ’n GPS-koördinaat van waar die swerm opgemerk is, asook die naam en kontaknommer van die lid van die gemeenskap wat dit aanmeld, per WhatsApp na 073-291-0557 gestuur word (slegs vir swerms in die Noord-Kaap).

Truck and Freight

You need to be Logged In to leave a comment.