Ester van der Westhuizen-Coetzer, die Ekapa-mynmaatskappy se omgewingspesialis, laat ’n gerehabiliteerde flamink vry op ’n baie vol Kamfersdam buite Kimberley. Die flamink, wat Donny gedoop is, is uit ’n doringboom gered waar die voël se een been vasgehaak het. Lees die volledige berig op bl. 3 en kyk die video op NoordkaapBulletin se Facebook-blad.

Foto: Charné Kemp

’n Gerehabiliteerde kleinflamink is Vrydag (15/07) op ’n baie vol Kamfersdam buite Kimberley vrygelaat, weke nadat hy (of sy) uit ’n doringboom gered is waar die voël se een been vasgehaak het.

Die flamink, wat Donny gedoop is, se geslag is onbekend.

Dr. Donovan Smith, veearts, het die beseerde flamink se been behandel nadat Ester van der Westhuizen-Coetzer, die Ekapa-mynmaatskappy se omgewing­spesialis, dit gered het. Sy het die flamink ook weer vrygelaat.

(Sien die video op NoordkaapBulletin se Facebook-blad.)

Van der Westhuizen-Coetzer meen die flamink is vier jaar oud. 

“Die flamink se ligamente en spiere is beseer, waarskynlik toe dit probeer land en die een been in ’n doringboom verstrengel geraak het. Die voël het heeltyd aan die been geruk.”

Flaminkliefhebbers in Amerika het die petalje op die Africam-kamera, wat in Oktober verlede jaar by Kamfersdam geplaas is, gesien en Van der Westhuizen-Coetzer laat weet. Die kamera, wat aan die internet gekoppel is, is deur Africam in samewerking met die mynmaatskappy en Birdlife Suid-Afrika op Brenda Booth se plaas opgerig. Ononderbroke beeld­materiaal van die flaminke word wêreldwyd deur vrywilligers dopgehou.

Van der Westhuizen-Coetzer sê hulle het weervoorspellings in ag geneem, en dit was Vrydag warm genoeg om die voël vry te laat. 

“Daar is nog enkele klein- en grootflaminke op Kamfersdam. Die dam is geweldig vol, en die meeste flaminke het weggevlieg. Die alge waaraan hulle vreet, groei nie welig nie.”

Die dam is vol vanweë ’n reënseisoen waarin meer as 600 mm in Kimberley geval het, hoewel sy op plekke 900 mm gemeet het. Sy sê die watertafel is hoog en die grond versadig terwyl die Sol Plaatje-munisipaliteit gesuiwerde rioolwater in Kamfersdam pomp, wat eintlik ’n natuurlike pan is. 

“Birdlife en Ekapa is ook besig met navorsing op Kamfersdam waarin ons wil bepaal wat die invloed van die chemiese elemente in die water, die alge-groei, diepte van die water en die flamink­bevolking op mekaar is, en hoe dit die flaminkbevolking beïnvloed. 

“Ek sal my eerste data wat oor die afgelope jaar versamel is, op ’n kongres in September bespreek. Volgende jaar kan ons die navorsing en gevolgtrekkings publiseer.”

Sy gaan volgende week merkers op die plaas aanbring om die styging of daling van die watervlak te bepaal. Booth sê die hoë vlak raak haar wildboerdery nadelig omdat die weidingsgebied deur water verswelg word. 

“Alles is nat. Die Postmasburg-spoorlyn langs die plaas is op plekke onder water. Die water is sowat 1 m van die spoorlyn tussen Johannesburg en Kimberley.”

Sy verwys ook na die afgelope reënseisoen waarin sowat 600 mm gemeet is, terwyl die normale reënvalsyfer sowat 200 mm is. In 2018 tydens die droogte het sy en haar man, wyle Herbert Booth, minder as 100 mm gemeet.

You need to be Logged In to leave a comment.