Die tragiese dood van
’n bekende in rugby- en krieketkringe het verlede week skokgolwe deur die
sportgemeenskap gestuur.
Gary Rodwell (60),
oud-Kimberliet wat Griekwaland-Wes in rugby en krieket verteenwoordig het, is
Donderdag (27/06) dood gekry in die Wes-Kaap, waar hy die afgelope paar jaar al
bly.
Rodwell, ’n veelsydige
sportman, het in die 1980’s op ’n senior vlak rugby en krieket gespeel en was
die afgelope paar jaar ’n passievolle sportkommentator op die sosiale media.
Hy het in 1984 ook vir
Natal in ’n Curriebeker-eindstryd teen die Westelike Provinsie op Nuweland
uitgedraf .
Huldeblyke het die
afgelope week op die sosiale media ingestroom.
Op die
Griekwaland-Wesse Rugbyunie se amptelike Facebook-blad beskryf mense vir
Rodwell as ’n gentleman, terwyl talle ander hom as ’n “sportlegende” sal
onthou.
Dave Prins, Rodwell se
oud-Griekwa-spanmaat, onthou hom as iemand wat altyd opgeruimd en positief was.
“Gary was almal se
vriend en was altyd daar vir ander,” vertel hy.
Volgens Prins was
Rodwell ’n veelsydige rugbyspeler wat in talle agterlynposisies gespeel het.
Rodwell is op 9
Februarie 1959 in Durban gebore en is een van drie kinders van Hubby en Alice
Rodwell.
Sy pa was ook ’n
kranige sportman wat onder meer waterpolo vir Griekwaland-Wes en Natal gespeel
en ’n lid van die De Beers-rugbyklub in die 1950’s was.
Gary het in 1976 aan
die Christian Brother’s College in Kimberley gematrikuleer, waar hy ’n
uitsonderlike atleet en sportman was.
Nadat hy sy diensplig
voltooi het, het Rodwell na Kimberley teruggekeer waar hy rugby en krieket op
provinsiale vlak vir Griekwaland-Wes gespeel het.
In die vroeë tot middel
1980’s het hy gereeld vir Griekwas as senter uitgedraf.
Hy het later ook vir
Natal op daardie posisie uitgedraf.
In die
1980-’81-krieketseisoen het Gary ook vir Griekwaland-Wes by vyf onderskeie
geleenthede gespeel. Die hoogste telling wat hy as regshandige kolwer
aangeteken het, was 34 lopies.
As ’n bouler het hy
eenkeer een paaltjie vir ses lopies laat kantel.
Rodwell het in ’n
stadium as advertensieverteenwoordiger vir die Diamond Fields Advertiser
gewerk, die laaste pos wat hy beklee het voordat hy na Durban verhuis het.
In Durban het hy
verskeie poste in die finansiële sektor beklee.
Hy het, nadat hy geskei
is, na Somerset-Wes in die Wes-Kaap verhuis waar hy vir homself in die
finansiële sektor gewerk het.
Rodwell het die
afgelope paar jaar aktief gholf gespeel en was onder meer nasionale voorsitter
van die Nomads-gholfklub.
Volgens Wernher Bock,
oud-kaptein van die Boland Nomads-gholfklub, het Rodwell ’n ruim hart gehad.
Hy onthou hoe Gary op
’n dag ’n kroegman by die Strand-gholfbaan na ’n wedstryd op Nuweland gevat het
waar hy hom aan die Sharks-span voorgestel het en vir hom ’n trui gekoop het.
Dit was die kroegman se eerste keer by ’n rugbywedstryd.
Rodwell word oorleef
deur sy ma, Alice, sy susters Wendy en Gail, en sy kinders, Kerryn en Kelvin.
’n Afskeidsgeselligheid
sal op Woensdag 10 Julie om 16:00 vir Gary Rodwell by die Strand-gholfklub
gehou word.