Die hooggeregshof in Kimberley het Maandag (18/07) in ’n opspraakwekkende moordverhoor gehoor tekkiespore wat die polisie op die plaaswerf van wyle Piet Els (86), miljoenêr-sakeman, gevind het, stem ooreen met die sole van twee paar skoene wat later by ’n verdagte se huis gevind is.
Die eienaars van die tekkies was onder die aanvallers wat Els en sy vriendin Rikkie Alsemgeest (toe 68) aangerand en gemartel het en haar met ’n strykyster gebrand het.
Els is 111 dae ná die aanval, op 24 Januarie 2018 op sy plaas buite Kimberley, in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.
Die beskuldigdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), albei van Lesotho; Lizbeth Ndlala (56), Themba Lawrence Maja (68) en Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga; Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Jabulani Wilson Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal. Hulle staan tereg op ses aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.
Die hof het vroeër in die verhoor getuienis gehoor dat Zuma na bewering van KwaZulu-Natal gery het om Ndlala en haar man, asook Mahomane, in Mbombela in Mpumalanga te ontmoet, waarna hulle in ’n ander motor na Kimberley gery het om die beweerde misdaad te pleeg.
Luidens die klagstaat het vier mans tussen 01:00 en 02:00 deur verskeie deure gekom en Els se slaapkamer binnegedring.
Hulle het die bejaardes gedreig en Els probeer dwing om die kluis oop te maak.
Els was nie in staat om dit te doen nie, en hy en Alsemgeest is gemartel.
Alsemgeest is aan ’n stoel vasgemaak. Die aanvallers het die kluis met ’n hoekslyper oopgesny, die inhoud gesteel en met die Mercedes gevlug.
Alsemgeest het haarself bevry en die polisie ontbied.
Die staat voer aan die aanval is vooraf beplan en die betrokkenes het die buit verdeel.
Selfone, ’n kamera, kontant, Krugerrande, diamante, polshorlosies, ringe, juwele en mansjetknope, vuurwapens, huishoudelike artikels en die Mercedes is onder meer gebuit.
Sers. Donald Sehako, ’n hondehanteerder en misdaadtoneelondersoeker, het getuig hy kon net twee identifiseerbare voetspore op die werf vind, waarvan hy gipsafdrukke gemaak het.
Die voetspore het wegbeweeg van die huis na ’n heining en die nabygeleë veld.
Die ondersoekbeampte het later ’n paar All Star-tekkies en ’n paar Puma-tekkies vir ontleding gebring wat by Qhautse se huis gevind is.
Sehako het bevind die betrokke tekkies is van dieselfde grootte, en hul sole het dieselfde patrone en identifiseerbare merke, as die spore op die werf.


