Die ekspedisie wat die Vergete Grootpad-erfenisroete amptelik bekend gestel het, het Sondagoggend (06/11) ná 14 dae in Griekwastad geëindig. Inwoners wat pas uit kerkdienste gekom het, asook kinders op fietse, het die sesperdewa van Piet Coetzer tot op die skouterrein gevolg, waar die perde vir hul terugtog na Senekal op ’n wa gelaai is. In dié verwelkomingsgroep was ook die 1933-Chevrolet van Kobie Herselman van Griekwastad. Die ekspedisie het op 22 Oktober vanuit Sutherland vir ’n rit van meer as 600 km op grondpaaie vertrek. Foto’s: Helena Barnard/ Adri Smit – Ons Karoo en Kontrei


Die moontlikhede wat die langste erfenisroete in Suid-Afrika kan ontsluit, is net so wyd soos die horisonne waarlangs die Vergete Grootpad-roete vir ongeveer 1 000 km vanaf Ceres in die suide tot Kuruman in die noorde strek.

Oor dié roete se korter bekendstelling-ekspedisie, wat langsaam oor 14 dae en op grondpaaie teen die loop- en drafpas van ’n sesperdewa plaasgevind het, vra Piet Coetzer: “Hoe verstaan jy ’n 640 km-pad deur die Karoo wat heeltemal te kort is?”

Dié ekspedisie het Sondag (06/11) in Griekwastad geëindig.

Teen die tyd dat kerkgangers uit die diens gekom het, het Coetzer se wa met ses perde van die Vreugde Vlaamperd-stoetery, vergesel deur die 1933-Chevrolet Eagle Roadster van Kobie Herselman met sy perde onder die skitterblink enjinkap, reeds die dorpenaars se aandag getrek. 

Op die roete van die NG kerk na die ouetehuis, waar bejaardes met Minister, Kimon, Tom, Karnet, Kristal en Klara in die tuig kon kennis maak, deur die woonbuurt, terug in die hoofstraat en tot op die skouterrein, het dorpenaars in voertuie, kinders op fietse en ander te voet die wa gevolg.  

Die einde van die ekspedisie in Griekwastad is ’n toonbeeld van hoe dit op die hele rit gegaan het, “want,” sê Coetzer, “as ek een iets oor die gasvryheid kan sê wat ons beleef het, moet ek sê dit was oordonderend; amper te veel.”

Coetzer, van Senekal, en sy span het verlede jaar op eie stoom en ingewing ’n deel van die Vergete Grootpad – ongeveer 700 km van Hopetown af tot in Ceres – met dieselfde wa en ses perde van die stoetery aangepak. Dit was juis die ekspedisie wat die aandag van prof. Doreen Atkinson van die Karoo Ontwikkelingstigting (KDF) getrek het. 

Atkinson, ’n KDF-trustee en by verskeie studies betrokke, stel veral in kleindorpse ontwikkeling, geskiedenis, toerisme en argitektuur van die Karoo belang. 

“Dit was vir ons by die KDF verstommend dat Piet en sy ekspedisie soveel prominensie geniet het. Ek dink nie ons sou in tien jaar soveel publisiteit vir die Vergete Grootpad gekry het sonder hom nie.
Prof. Doreen Atkinson

“Piet het bewys hy kan dit doen, en die konsep van die Vergete Grootpad het weer gegroei.”

Atkinson het met Coetzer kontak gemaak, planne is gesmee en vanjaar het die KDF die finansiering van die ekspedisie gedoen.  

Die Vergete Grootpad is die eerste roete wat die Kaapland in die suide met die binneland in die noorde verbind het. Dit volg die tweerigting-verkeer van antieke reisigers en is deur die !Xam, KhoeKhoe, Tswana, sendelinge en ontdekkers gebruik om tot in Sentraal-Afrika te reis. ’n Tydperk so vroeg soos die laat 1700’s – voor die Groot Trek – is ter sprake.

Die erfenisroete en sy moontlikhede is tot voordeel van ’n hele gemeenskap, sê Atkinson, wat noem dat die konsep nog minstens vyf jaar gaan neem om ten volle te ontwikkel.

“Elkeen het iets wat hy kan beklemtoon, en sodra jy goed aanmekaar heg, byvoorbeeld sendelinggeskiedenis, het jy meteens ’n subtema.”

Tydens die pas afgelope ekspedisie het Atkinson besoeke aan van die dorpe waardeur die roete strek, gedoen, asook aan omliggende dorpe. In van die dorpe is werksessies oor die agtergrond, aard en potensiaal van die erfenisroete aangebied.

Vir meer inligting oor die konsep van die erfenisroete, stuur ’n e-pos na doreen@karoofoundation.co.za; en besoek die Facebook-blad Ons Karoo en Kontrei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article