’n Gewapende roof is gister (Woensdag 15 Maart) deur die polisie in Warrenton gefnuik.

Volgens lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, het die speurders in Warrenton omstreeks 11:45 inligting ontvang dat ’n gewapende roof by ’n winkel in die middedorp plaasvind.

Drie gewapende rowers het na bewering die winkel binnegekom en die eienaar begin rondstoot toe die polisie op hulle toegeslaan het.

Twee manlike verdagtes, onderskeidelik 35 en 46 jaar oud, is op die toneel in hegtenis geneem.

’n Derde rower het van die toneel gevlug.

Beslag is gelê op ’n vuurwapen, twee magasyne, ammunisie en ’n sak met toerusting om ’n roof uit te voer, insluitend kabelbinders, klapmusse, skroewedraaiers en ’n wielsleutel.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die verdagtes by ander rooftogte wat onlangs in Warrenton en omliggende gebiede plaasgevind het, betrokke is.

Lede van die publiek word gewaarsku om nie die derde verdagte te nader nie aangesien hy gewapen is, en gevaarlik kan wees. Die soektog na hom gaan steeds voort.

Enigieen met inligting kan die Warrenton-speurders by 082-448-6330 skakel, of stuur ’n anonieme SMS na 32211 of die MySAPS-app.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article